Nuus 18:00
BULLETIN 14 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party glo Mcebisi Jonas sal diplomatieke balans in Washington herstel
# SA Suikerrietkwekers waarsku Amerikaanse tariewe bedreig landelike werksgeleenthede
# En tennis: Amerika en Japan beklink die laaste twee plekke in die Billie Jean Kingbeker-eindtoernooi in China
# Die GOOD-party het president Cyril Ramaphosa se aanstelling verwelkom van die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, as Suid-Afrika se spesiale gesant na Amerika. Die party sê Jonas bring integriteit en ervaring na die rol en is geskik om Suid-Afrika se geloofwaardigheid in Washington te herbou nadat die voormalige ambassadeur, Ebrahim Rasool, teruggekeer het. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, glo Jonas se leierskap tydens die ondersoek na staatskaping en sy sake-agtergrond sal hom toelaat om verdeeldheid teen te werk en Suid-Afrika se belange in die buiteland doeltreffend te bevorder.
Die organisasie Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers waarsku intussen enige verhoging in Amerikaanse tariewe op suikerinvoere kan kwekers en landelike gemeenskappe ernstig benadeel. Die organisasie vra die regering om voort te gaan met sy onderhandelings met Amerika om verdere uitvoerbelasting te voorkom. Uitvoerende hoof Thomas Funke sê hoewel die tarief van 30-persent vir 90 dae opgehef is, stel die voortgesette tarief van tien-persent steeds werk en voortbestaan in gevaar in KwaZulu-Natal en Mpumalanga:
# Die voorsitter van SANParke, Pam Yako, sê die organisasie se Visie 2040 sal deur ses strategiese gebiede aangevuur word, waarvan een op herskeppende toerisme gefokus is. Woordvoerder JP Louw sê herlewingstoerisme word gelei deur die beginsel van inklusiwiteit, wat verseker dat plaaslike gemeenskappe baat vind. Hy sê die direksie sal sy jaarlikse belanghebbende-sitting vir September vanjaar belê om die jongste inligting te verskaf oor die vordering met die instelling van Visie 2040:
# Tennis: Die tafel is nou gedek vir die eindtoernooi van die Billie Jean Kingbeker-spankompetisie vir vroue in Shenzhen, China, in September. Amerika en Japan het die laaste twee lande geword wat kwalifiseer ná oorwinnings oor onderskeidelik Slowakye en Kanada. Die ander deelnemers is die gasvrou, die verdedigende kampioen, Italië, en die wenners van die ander vier kwalifiseringsgroepe – Oekraïne, Spanje, Groot-Brittanje en Kazakstan. Die eindtoernooi sal net bestaan uit uitklopwedstryde – die kwarteindronde, halfeindronde en eindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 21-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-456-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-201-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-66-sent per vat.
# En laastens, die Global Initiative Against Transnational Organised Crime is in rou oor die dood van senior misdaadkenner Jenni Irish-Qhobosheane, wat Saterdag in ’n motorongeluk in Johannesburg, Gauteng, gesterf het. Sy was ’n bekende navorser wat vir meer as 30 jaar aan georganiseerde misdaad en wetstoepassing in Suid-Afrika gewerk het. Irish-Qhobosheane het ook die burgerlike sekretariaat vir die polisie gelei en het die regering met sy misdaadstrategie gehelp. Huldeblyke beskryf haar as toegewyd en deernisvol. Sy word oorleef deur haar suster en broer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….