Nuus 17:00
BULLETIN 14 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe geregtelike ondersoek na Mxenge se dood word tot Junie uitgestel
# Nal’iBali bly verbind tot die beskerming van kinders se regte na aantygings van seksuele aanranding
# En Katy Perry en Gayle King onderneem ‘n ruimte-reis van elf minute
# Die geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheids-regspraktisyn Griffiths Mxenge in 1981, is tot 17 Junie uitgestel. Twee afsonderlike geregtelike doodsondersoeke na die dood van Mxenge en die voormalige ANC-leier, hoofman Albert Luthuli, het vandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, begin. Luthuli het in 1967 in onduidelike omstandighede gesterf. Ncedile Dunywa van die Nasionale Vervolgingsgesag het in die hof gesê bewyse van die geregtelike doodsondersoek in 1967 sal samespanning toon tussen die veiligheidspolisie, distriksgeneeskundiges, patoloë en die landdros:
# Die nasionale leesveldtog Nal’iBali het aantygings van seksuele aanranding teen een van sy leesveldtogpraktisyns ten sterkste veroordeel. Die beweerde slagoffer is ‘n graad-3-leerder van Braamfischerville Primary School in Gauteng. Die betrokke amptenaar is geskors en in hegtenis geneem. Die provinsiale Onderwysdepartement het sedertdien bande met Nal’iBali verbreek. Die organisasie se kinderbeskermingsbeampte, Sibongiseni Blose, het aan SABC News gesê hulle is steeds daartoe verbind om kinderregte te beskerm:
# ‘n Groep vroue, insluitend die pop-ster, Katy Perry, het ‘n baie kort ruimtereis onderneem op Jeff Bezos se Blue Origin-vuurpyl. Daar was ses vroue aan boord: Perry, die omroeper Gayle King, die joernalis Lauren Sánchez, die vuurpylwetenskaplike Aisha Bowe, die burgerregte-aktivis Amanda Nguyen en die rolprentvervaardiger Kerianne Flynn. Die vroue was almal passasiers en dus nie in beheer van die vlug nie. Die vuurpyl is vanaf Wes-Texas lanseer, en die sending het slegs elf minute geduur.
# Gholf: Die Amerikaner Tiger Woods was een van die eerstes om die Noord-Ierse speler Rory McIlroy te verwelkom in die eksklusiewe klub van spelers wat ‘n loopbaan-Grand Slam van major-titels beklink het. Die 35-jarige-McIlroy het dit gister vermag toe hy die Meesters gewen het. Die vier ander lede is die Suid-Afrikaner Gary Player en die Amerikaners Jack Nicklaus, Ben Hogan en Gene Sarazen. Player sê McIlroy het die standaard vir sy era gestel, terwyl Nicklaus sê hy verwag om voortaan nog baie goeie spel van McIlroy te sien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-175-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-197-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor ’n onlangse studie van die Universiteit Stellenbosch wat toon dat 50-persent van onderwysers die beroep wil verlaat weens uitermatige werkslading. Die vakbond vra die Departement van Basiese Onderwys om aandag te gee aan die administratiewe las wat onderrigtyd verminder. Die departement word aangemoedig om meer administratiewe personeel aan te stel om druk te verminder en onderwys-gehalte te verbeter. Die vakbond sê onlangse studies dui aan dat Suid-Afrika meer as 50-duisend onderwysers benodig, terwyl die land jaarliks slegs sowat 15-duisend nuwe onderwysers oplei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….