Nuus 13:00
BULLETIN 14 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane word uitgenooi om die verslag oor die ramp in George aan die Wes-Kaapse wetgewer voor te lê
# Netbal: Die Proteas gaan in September drie toetse in Nieu-Seeland speel
# En die DA steek die ANC die eerste keer verby in ‘n meningsopname
# Die Wes-Kaapse wetgewer se staande komitee oor Infrastruktuur het die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, genooi om voor hom te verskyn om die verslag oor die gebouramp in George voor te lê. Die minister het verlede week die Nasionale Huisbouersregistrasieraad se bevindings oor die ineenstorting van die gebou bekendgemaak. Vier-en-dertig mense is dood in die voorval in Mei verlede jaar. Dirk Wessels van die DA sê die ramp was ‘n strukturele, menslike en bestuurstragedie:
Cosatu verwelkom intussen Simelane se belofte dat mense wat die nuwe Wet op Behuisingsbeskerming oortree, streng vervolging en strawwe kan verwag. Die wet is in Januarie bekragtig. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê gesondheid- en veiligheidsregulasies soos deur die Nasionale Bouregulasie voorgeskryf word, is ook oortree in George:
# Die Vryheidsfront Plus sê die groot aantal plakkerskampe wat onwettig aan die Stad Tshwane se kragnetwerk gekoppel is, maak die reeds onbetroubare netwerk nog meer onbestendig. Die metro het in Desember 575 plakkerskampe geïdentifiseer wat weens onwettige grondbesettings baie vinnig uitbrei. Die metro se Versoekskrif-komitee het ook sowat 20 aansoeke van plakkerskampe ontvang om tydelik aan die netwerk gekoppel te word. Die VF Plus sê onwettige verbindings hou ʼn ernstige gevaar vir inwoners in.
# Netbal: Suid-Afrika, wat die wêreld se nommer-vyf-span is, speel in September ’n reeks van drie toetse in Nieu-Seeland ter voorbereiding vir volgende jaar se Statebondspele in Glasgow. Die Proteas en die Silwervarings, wat tweede op die wêreldranglys is, sal meeding om die Taini Jamison-beker. Die Proteas se afrigter, Jenny van Dyk, sê dis belangrik om teen die topspanne te speel, veral voor 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die Nieu-Seelandse afrigter, Noeline Taurua, sê dit sal ’n goeie toets wees terwyl hulle die groep se diepte en kombinasies bou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 21-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-781-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-227-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die DA het die ANC die eerste keer verbygesteek in sy openbare meningspeiling. Die DA het 30,3-persent steun en die ANC 29,7, met die begrotingsvoorstel om BTW te verhoog wat aansienlik tot hierdie verskuiwing bygedra het. Die IRV sê die DA se steun onder swart kiesers het van vyf- tot 18-persent gestyg, wat die politieke potensiaal vir die party toon om sy steun oor tradisionele grense heen te laat groei. Die volledige uitslae van die peiling sal môre bekend gemaak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….