Nuus 11:00
BULLETIN 14 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê wêreldhandel moet vry en gegrond op reëls bly
# Die ANC sê die ondersoek na hoofman Luthuli en Mxenge se dood is ‘n stap na geregtigheid
# En ‘n belangrike hofsaak begin vandag tussen Meta en die Amerikaanse Federale Handelskommissie
# President Cyril Ramaphosa sê handel tussen nasies is ‘n belangrike deel van ekonomiese vooruitgang, maar daar moet ‘n gelyke speelveld in wêreldhandel wees. Ekonome waarsku dat wêreldhandel met drie-persent kan krimp weens Amerika se nuwe tariefmaatreëls. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief handel moet vry en voorspelbaar bly en deur ‘n reël-gebaseerde stelsel beheer word. Hy sê met ontwikkelende ekonomieë soos Suid-Afrika wat kwesbaar is vir wisselvalligheid in internasionale handel, verskerp die regering sy pogings om ’n verskeidenheid bestemmings vir die land se produkte te kry.
# Die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis en wenner van die Nobelprys vir Vrede, hoofman Albert Luthuli, en die anti-apartheids-regspraktisyn, Griffiths Mxenge, begin vandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg. ‘n Ondersoek het in 1967 bevind Luthuli het op ‘n spoorlyn geloop toe ‘n trein hom doodgery het. Mxenge is in 1981 doodgesteek. Die ANC in KwaZulu-Natal se provinsiale sameroeper, Jeff Radebe, sê die ondersoek is ‘n stap na geregtigheid en aanspreeklikheid en moes lankal gebeur het:
# Die verpleegvakbond Denosa vra die Gesondheidsdepartement om korrupsie uit te roei deur die tenderstelsel te hersien en deursigtige prosesse te verseker. Die departement beplan om meer hospitaalbeddens, matrasse en linne aan te skaf om pasiënte se sorg en waardigheid te verseker. Denosa se woordvoerder, Sonia Mabunda-Kaziboni, sê indien hierdie verkryging deur die bestaande tenderstelsel bestuur word, kan dieselfde korrupte praktyke plaasvind wat tans ander projekte van openbare gesondheid teister:
# Die sosiale media-reus, Meta, se antitrust-hofsaak teen die Amerikaanse Federale Handelskommissie begin vandag in Washington. Die kommissie voer aan die eienaar, Mark Zuckerberg, se verkryging van Instagram en WhatsApp in onderskeidelik 2012 en 2014 was onwettig en moes nooit goedgekeur gewees het nie. Hy beweer dit verhoed dat maatskappye kan meeding en gee hom dus alleenreg. Indien die kommissie die saak wen, kan Zuckerberg verplig word om Instagram en WhatsApp te verkoop.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het sy voorsprong in die bestuurders-kampioenskap vergroot toe hy die Katarse Grand Prix gewen het. Die Ducati-ryer het met Maverick Vinales van Red Bull KTM Tech3, en Franco Morbidelli van VR46 Racing afgereken. Die Suid-Afrikaner Brad Binder het 13de geëindig op sy Red Bull KTM. Marquez het nou ‘n voorsprong van 17 punte en sê hy is bly om die eerste keer sedert 2014 in Katar te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-410-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-231-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….