Nuus 06:00
BULLETIN 14 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê sy vergadering met die VF Plus was opbouend en toekomsgerig
# Die EFF vra vir ‘n geregtelike ondersoek na seksuele aanranding in die basiese onderwyssektor
# En gholf: Perrine Delacour van Frankryk wen die Suid-Afrikaanse Vroue Ope
# Die ANC sê sy vergadering met die Vryheidsfront Plus gister was hartlik en toekomsgerig met ‘n gedeelde waardering vir die dringendheid om belangrike fiskale en bestuursuitdagings op te los. Die vergadering het plaasgevind teen die agtergrond van die huidige begrotingsdooiepunt. Die ANC sê hulle het in beginsel saamgestem oor die belangrikheid van die onlangs aanvaarde fiskale raamwerk, veral as ‘n grondslag om openbare finansies te bestendig. Die ANC sê sy siening is steeds dat vennote in die regering van nasionale eenheid gelei moet word deur wedersydse respek en ‘n gemeenskaplike doel.
# Die EFF sê dit is ontstellend om die hoë vlakke van kinderverkragting en seksuele aanranding te sien wat in die sorg van die basiese onderwyssektor plaasvind. Die veiligheid van kinders is oor baie jare reeds in gedrang, met min of geen ingryping van die regering om skole ‘n veilige hawe vir kinders te maak nie. Die EFF doen ‘n beroep vir ‘n landwye ondersoek om die ware vlakke van seksuele geweld in die basiese onderwyssektor te bepaal.
# Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer, SANTACO in Gauteng en die National Taxi Alliance veroordeel die voortgesette korrupsie, geweld en moorde wat die taxibedryf in die provinsie teister. Die toenemende taxi-geweld het sedert Januarie 59 lewens geëis. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê voorvalle van geweld en misdadige bedrywighede het veroorsaak dat die bedryf ‘n slegte naam gekry het, en hulle is daartoe verbind om die kwessies direk aan te pak:
# De minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, doen ‘n beroep op gemeenskappe langs die vloedlyn van die Bloemhofdam om te ontruim aangesien nog water uit die dam vrygelaat gaan word. Dit is om die swaar invloei van die boonste opvanggebiede te beheer. Majodina het bewerings die nek in geslaan van inwoners wat sê die departement moes die radiale sluise vroeër oopgetrek het om verdere oorstromings te verhoed. Sy voer aan die watervrystelling, insluitend die opening van die sluise by die dam is volgens regulatoriese vereistes gedoen:
# Skermutselings tussen pro-regeringsmagte en M23-rebelle het Goma in die ooste van die Kongo bereik, het inwoners gister aan Reuters gesê, met die partye wat mekaar blameer vir die ergste geweld in die gebied se grootste stad sedert die rebelle dit in Januarie ingeneem het. Die sterftesyfer van die konflik was nie onmiddellik duidelik nie. ’n Regeringsverklaring het gesê 52 mense is in en om Goma vermoor. Inwoners het gister tot in die vroeë oggendure geweervuur en ontploffings aangemeld.
# Gholf: Perrine Delacour van Frankryk het ‘n laaste ronde van twee onder 70 aangeteken om die Suid-Afrikaanse Vroue Ope met twee houe te wen by die Erinvale Country and Golf Estate in Kaapstad. Dit is haar tweede Europese Vrouetoer-titel. Suid-Afrika se Casandra Alexander het met haar laaste ronde van 66 tweede geëindig op 12 onder baansyfer. Kelsey Bennett van Australië en die Brit, Bronte Law het die derde plek op 11 onder gedeel. Delacour sê hierdie oorwinning is ‘n groot hupstoot vir haar selfvertroue:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 21-rand-70-sent teen die euro en 25-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-475-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-236-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….