Nuus 13:00
BULLETIN 12 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê hy gee voorkeur aan opbouende dialoog met alle politieke partye in die Parlement
# Die DA herhaal sy oproep dat die paroolstelsel dringend hersien word
# En rugby, die Bulle kies grofgeskut vir hulle kragmeting teen Edinburgh
# Die ANC sê hy gaan voort om opbouende dialoog met alle politieke partye in die Parlement te voer om nasionale bestendigheid en goeie regering te verseker. Daarom het die ANC-onderhandelingspan onder leiding van sekretaris-generaal Fikile Mbalula ‘n positiewe vergadering met Rise Mzansi-voorsitter, Vuyiswa Ramokgopa en IVP-president Velenkosini Hlabisa gehad. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê daar is konsensus dat die aanvaarde fiskale raamwerk ʼn noodsaaklike stap is om staatsfinansies te stabiliseer, belangrike dienste te beskerm en groei te bevorder.
# Die DA het sy oproep herhaal dat die paroolbeleid dringend hersien word. Die party stel ʼn risiko-gebaseerde assesseringstelsel voor wat die uitwerking op die gemeenskap in ag neem terwyl vroeë vrylating vir gewelds- en wapenverwante oortreders verbied word, tensy streng rehabilitasie- en herintegrasievoorwaardes bereik is. DA-lid Nicholas Gotsell sê die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het op ‘n vraag in die Parlement gewys op ʼn gevaarlike verband tussen mislukte paroolbeleide en die voortslepende dwelm- en bende-oorloë op die Kaapse Vlakte:
# Ses polisiebeamptes van die Teen-Bende-eenheid in Welkom bly in aanhouding nadat hulle in die Landdroshof in Odendaalsrus verskyn het. Die beamptes word beskuldig vir die beweerde betaling van omkoopgeld van 12-duisend-rand en die aanranding op ‘n Nigeriese burger in 2024. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder in die Vrystaat, Mojalefa Senokoatsane, sê die Valke se ondersoeke na die saak duur voort:
# Rugby: Die Bulle het besluit om hulle eie grofgeskut in te span vir vanmiddag se Uitdaagbeker-kwarteindwedstryd teen Edinburgh met nie minder nie as ses Springbokke op hul bank. Die Bulle hou by die tradisionele vyf-drie-verdeling, maar het ʼn goeie aantal Bokke in hul geledere om die tempo in die laaste kwart van die wedstryd op te stoot. Hulle glo dis presies waar hulle beheer oor die wedstryd moet neem om ʼn plek in die halfeindronde te verseker. Afskoptyd is half twee Suid-Afrikaanse tyd.
# En om mee af te sluit: Krieketnuus: Die gewese Engelse snelbouler James Anderson is ridderskap toegestaan in die gewese eerste minister, Rishi Sunak, se bedankings-vereringslys. Andersen het in Julie verlede jaar uit toetskrieket getree nadat hy 704 paaltjies geneem het – die meeste vir ‘n snelbouler in die geskiedenis van toetskrieket. Die 42-jarige speel steeds vir Lancashire, maar het die begin van die Engelse graafskapseisoen misgeloop weens ‘n beenbesering. Die vereringslys is ‘n tradisie wat uittredende eerste ministers die geleentheid gee om mense te benoem vir ridderskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….