Nuus 16:00
BULLETIN 11 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse pastoor word ontvoer terwyl hy in ‘n Oos-Kaapse kerk preek
# Minstens 220 is nou dood in die Dominikaanse nagklubtragedie
# En Prada betaal 27-miljard-rand om Versace te koop
# Die Oos-Kaapse polisie stel ondersoek in na die ontvoering van ‘n Amerikaanse sendeling, pastoor Josh Sullivan, wat ontvoer is terwyl hy gepreek het in die Fellowship Baptist Church in Motherwell in Gqeberha. Vier gewapende mans het glo die kerk binnegegaan, Sullivan met ‘n vuurwapen aangehou en toe met hom op die vlug geslaan. Sy motor is later verlate gevind. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana vermoed die motief hou verband met ‘n losprys terwyl die land steeds ‘n oplewing in ontvoerings ondervind.
# Die DA in KwaZulu-Natal sê indien die regering van nasionale eenheid ineenstort, kan dit ‘n ramp vir die provinsie beteken. Die party se koukus in die wetgewer verwelkom hernude samesprekings om die nasionale begrotings-dooiepunt op te los, maar sê voortdurende onbestendigheid op nasionale vlak bedreig ook die regering van provinsiale eenheid se bestendigheid. Die DA-lid, Francois Rodgers, versoek alle regerings-vennote om beginsels, nie politiek nie, voorop te stel om werksgeleenthede, ekonomiese vooruitgang en armoedeverligtings-pogings te beveilig:
# Owerhede van die Dominikaanse Republiek het hul reddingsoperasie beëindig en oorgeskakel na herwinningspogings na Dinsdag se nagklub-tragedie. Minstens 220 mense is dood nadat die dak ingetuimel het. Honderd-89 mense is lewend uit die puin gehaal. Die land se noodsentrum het reeds Woensdag in ‘n amptelike verklaring gesê alle redelike moontlikhede om meer oorlewendes te vind, is uitgeput. Die Jet Set-nagklub is een van die Karibiese Eilande se bekendste kuierplekke. Twee voormalige hoofliga-basketbalspelers is onder die bevestigde slagoffers.
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, hoop Ferrari kan die naweek in Bahrein ‘n tree vorentoe gee. Die Scuderia is tans vierde in die vervaardigerskampioenskap nadat hy in die eerste drie wedrenne gesukkel het teen ander mededingers soos McLaren en Mercedes. Die Brit sê hulle het ʼn opgradering aan die voertuig gedoen wat die naweek tot beter uitslae behoort te lei:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 21-rand-86-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-104-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-216-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, die Italiaanse modehuis, Prada, het aangekondig dat hy ‘n ooreenkoms bereik het met die Amerikaanse groep, Capri Holdings, om sy glansryke mededinger, Versace, vir 27-miljard-rand te koop. Die verkryging sal ‘n luukse groep skep met inkomste van meer as 129-miljard-rand wat beter kan meeding met nywerheidsreuse soos die Franse konglomerate LVMH en Gucci. Die voorsitter van die Prada-groep, Patrizio Bertelli, sê hulle is verheug om Versace te verwelkom en ‘n nuwe hoofstuk te bou vir ‘n handelsmerk met ‘n sterk verbintenis met kreatiwiteit, vakmanskap en tradisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….