Nuus 15:00
BULLETIN 11 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# DA in KZN sê verantwoordelike dialoog word benodig om die regering van nasionale eenheid van ineenstorting te red
# Groot toerbusse gaan verbied word in ‘n gewilde toeriste-bestemming in Kaapstad
# En ‘n Australiese vrou gee geboorte aan ‘n ander paar se baba na ‘n deurmekaarspul met in vitro-bevrugting
# Die DA in KwaZulu-Natal sê indien die regering van nasionale eenheid ineenstort, kan dit ‘n ramp vir die provinsie beteken. Die party se koukus in die wetgewer verwelkom hernude samesprekings om die nasionale begrotings-dooiepunt op te los, maar sê voortdurende onbestendigheid op nasionale vlak bedreig ook die regering van provinsiale eenheid se bestendigheid. Die DA-lid, Francois Rodgers, versoek alle regerings-vennote om beginsels, nie politiek nie, voorop te stel om werksgeleenthede, ekonomiese vooruitgang en armoedeverligtings-pogings te beveilig:
# Die Reguleringsowerheid van die Privaat Sekerheidsbedryf het ontken dat die voorgestelde vuurwapenregulasies privaat sekerheidsfirmas sal benadeel. Die publiek kan tot 25 April kommentaar lewer op die konsep-wysigings wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gepubliseer het. PSiRA voer aan daar word duidelik gestel dat die regulasies nie vuurwapens sal verbied of ammunisie sal beperk nie, maar daarop gemik is om toesig te verbeter. Die owerheid sê hy verwelkom openbare insette en is daartoe verbind om te verseker dat regulasies die bedryf ondersteun, maar nie-nakoming en roekelose operateurs teenwerk.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat Stedelike Beweeglikheid sê hy gaan groot toerbusse in Bo-Waalstraat in die Bo-Kaap verbied. Dit is busse met 36 sitplekke of meer. Sekere beperkings wat parkering betref, sal ook toegepas word. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê hierdie ingrypings volg nadat inwoners gekla het oor die verkeersopeenhopings wat groot toerbusse in die gewilde toeriste-bestemming veroorsaak:
# Sokker: Die Egiptiese doelskieter Mohamed Salah het ‘n nuwe kontrak van twee jaar met Liverpool onderteken wat hom tot 2027 op Anfield sal hou. Sy kontrak sou die einde van hierdie seisoen verstryk. Die 32-jarige het hierdie seisoen 27 doele en 17 aanvorings bygedra om Liverpool tot boaan die Premierliga-punteleer te laat klim. Salah sê hy is opgewonde om steeds vir die Rooies te kan speel en nóg trofees in te palm:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-25-sent teen die dollar, 21-rand-81-sent teen die euro en 25-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-491-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-221-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-98-sent per vat.
# En laastens, ‘n bekende Australiese vrugbaarheidskliniek het om verskoning gevra nadat die verkeerde embrio ingeplant is vir ‘n vrou wat toe geboorte geskenk het aan ‘n ander paar se baba. Monash IVF bedryf meer as 100 klinieke. Die kliniek het om privaatheidsredes nie die pare se name genoem nie, en wou ook nie sê wanneer die baba gebore is of wie nou toesig het oor die kind nie. Die fout het in Queensland plaasgevind, waar die wet bepaal die geboortema en haar lewensmaat word as die kind se ouers erken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….