Nuus 13:00
BULLETIN 11 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# China verhoog tariewe op Amerikaanse goedere tot 125-persent terwyl die handelsoorlog met Trump vererger
# FNB sê die swak vervaardigingsuitset strek tot in Februarie
# En die Vereniging van Staatsamptenare sê minister Tau moet die Nasionale Loterykommissie se integriteit herstel
# China het ‘n nuwe tarief van 125-persent op Amerikaanse invoere aangekondig. Dit stem ooreen met die patroon wat ontwikkel het in die handelsoorlog, met China wat met soortgelyke aanpassings reageer op Amerikaanse tariefverhogings. China se president, Xi Jinping, het die Europese Unie intussen versoek om by Beijing aan te sluit teen wat hy Amerikaanse boelies noem nadat Amerika ‘n heffing van 145-persent ingestel het op Chinese goedere. Die Amerikaanse president, Donald Trump, hoop steeds om ‘n ooreenkoms met Beijing te bereik wat tot voordeel van albei lande sal wees.
Terug in Suid-Afrika:
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Thanda Sithole, sê vervaardigingsuitset het in Februarie met 3,2-persent gedaal op ‘n jaargrondslag. Dit stem ooreen met die inkrimping wat in Januarie aangeteken is, hoewel dit effens verskil van die aanvanklike vooruitskatting van ‘n daling van 3,3-persent. Die seisoens-aangepaste vervaardigingsuitset het maand-tot-maand met 0,3-persent gegroei. Sithole sê in die drie maande tot Februarie het die uitset met 2,3-persent ingekrimp, wat algehele bruto binnelandse produkgroei in die eerste kwartaal van vanjaar kan vertraag:
# Die Suid-Afrikaans-gebaseerde ingenieurs- en mynboukontrakteur, Murray and Roberts, het bevestig sy wêreldwye mynbou-ondernemings is verkoop nadat krediteure sy sakereddingsplan goedgekeur het. Sleutelbates, insluitend Cementation en Terra Nova, sal verkoop word aan ‘n konsortium gelei deur Differential Capital. Die opbrengs sal sy versekerde skuld en afleggings betaal, hoewel onversekerde krediteure dalk slegs gedeeltelike uitbetalings sal ontvang. Die verkoop laat Murray and Roberts Holdings kommersieel insolvent. Die raad gaan ‘n vrywillige ontbinding van die groep voorstel.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om beslissend op te tree om te verhoed dat die Nasionale Loterykommissie verder verval. President Cyril Ramaphosa het onlangs die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om korrupsie by die kommissie te ondersoek. Claude Naiker van die vereniging sê die kommissie se huidige administrasie het ʼn era van uitbuiting, diskriminasie en viktimisering ingelei:
# Motorsport: Robert Reid gee ’n algehele ineenstorting in bestuurstandaarde die skuld vir sy besluit om te bedank as ‘n adjunkpresident van die wêreldbeheerliggaam, die F-I-A. Dit volg nadat hy die onlangse wysiging aan statute teengestaan het. Reid sê hy het die posisie aanvaar om die lede te dien en nie om mag te dien nie. Hy sê hy het mettertyd ‘n geleidelike uitkalwing gesien van die beginsels wat hulle moet handhaaf, terwyl besluite agter geslote deure geneem is. Reid glo die sport verdien verantwoordbare, deursigtige en lid-gedrewe leierskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-29-sent teen die dollar, 22-rand-2-sent teen die euro en 25-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-667-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-216-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….