Nuus 11:00
BULLETIN 11 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vergader die naweek met die DA en die VF Plus om geskille uit te stryk
# Die IVP het met die ANC vergader oor die begrotingsdooiepunt
# En president Macron van Frankryk sê die Amerikaanse tariefverposing is kwesbaar
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hy vergader die naweek met die DA en die Vryheidsfront Plus om hul verskille in die regering van nasionale eenheid te bespreek. Dit volg nadat die DA en die VF Plus verlede week teen die fiskale begrotingsraamwerk gestem het, wat ‘n BTW-verhoging insluit. Mbalula sê besprekings oor die begrotingskwessies met partye binne en buite die koalisieregering was opbouend:
‘n Afvaardiging van die IVP onder leiding van sy president, Velenkosini Hlabisa, het intussen gister met die ANC vergader om dringende nasionale kwessies te bespreek, veral die voortslepende dooiepunt in die regering van nasionale eenheid oor die begroting. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê hulle het klem daarop geplaas dat die begroting fundamenteel vir behoeftiges is en dat stewige maatskaplike veiligheidsnette ingebou moet word om kwesbare gesinne te beskerm:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa het loongesprekke in die motorbedryf begin met ‘n eis van ‘n algemene verhoging van tien-persent. Die vakbond sê veral swart werknemers verdien te min om met die stygende koste by te bly. Hulle vra ook vervoer- en nagdienstoelaes, mediese hulp en ondersteuning tydens verkorte werksure. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, glo inflasie-gebaseerde verhogings is nie genoeg nie, en vra dringende optrede om werkers se omstandighede te verbeter:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê die gedeeltelike opskorting van Amerikaanse tariewe vir 90-dae beteken onsekerheid vir Europese sakeondernemings wat steeds 25-persent moet betaal op staal, aluminium en motors. Finansiële markte kon Woensdag asemskep toe president Donald Trump besluit het om tariewe op tientalle lande tydelik op te hef sodat hulle kan onderhandel. Macron beskryf die tydelike verligting as kwesbaar en sê Europa moet voortgaan om aan teenmaatreëls te werk en alle beskikbare moontlikhede gebruik om homself te beskerm.
# Tennis: Die driemalige kampioen, Stefanos Tsitsipas, het na die kwarteindronde van die Monte-Carlo-meesterstoernooi deurgedring. Die Griek het Nuno Borges van Portugal geklop en daarmee sy 50ste ATP-meesters-een-duisend-wedstryd op klei gewen. Die tweede gekeurde Carlos Alcaraz van Spanje het die Duitse kwalifiseerder Daniel Altmaier getroef. Alcaraz sal in die kwarteindronde teen Arthur Fils van Frankryk te staan kom wat ‘n gewese kampioen, Andrey Rublev van Rusland, uitgeskakel het. Alejandro Davidovich Fokina van Spanje het Jack Draper van Brittanje uitgestof.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-35-sent teen die dollar, 21-rand-91-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-en-10-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-211-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….