Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Die verdedigende Meesters-kampioen, Scottie Scheffler, speel saam met sy Amerikaanse landgenoot Justin Thomas en die Spanjaard Jose Luis Ballester wanneer die eerste major-toernooi van die jaar vandag op Augusta in Georgia afslaan. Rory McIlroy van Noord-Ierland wat probeer om die sesde man te word om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi, is in dieselfde groep as Ludvig Aberg van Swede en die Amerikaner Akshay Bhatia. Drie Suid-Afrikaners is onder die 95 deelnemers: die voormalige kampioen, Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence.
Nog gholfnuus: Die 32ste Suid-Afrikaanse Vroue-ope, die laaste toernooi in vanjaar se Sonskyn-vrouetoer, begin vandag op die Erinvale-buiteklub in Somerset-Wes in Kaapstad. Suid-Afrikaners soos Casandra Alexander, Kaiyuree Moodley en Danielle du Toit is deel van die sterk groep wat deelneem. Die prysgeld is sowat 7,1-miljoen-rand. Moodley, wat die Sonskyn-vrouetoer vanjaar behoorlik stormgeloop het, sê sy het ʼn goeie seisoen gehad:
# Sokker: Orlando Pirates is die eerste keer sedert 2013 deur na die CAF-Kampioeneliga se halfeindronde. Dit volg op ‘n doellose gelykopstryd teen die Algerynse klub, MC Alger, in die tweede kragmeting op die Orlando-stadion. Die Buccaneers dring deur met ‘n gemiddeld van 1-0 nadat hulle Vrydag se eerste wedstryd 1-0 gewen het. Pirates speel nou teen Pyramids FC terwyl Mamelodi Sundowns kragte meet met nog ‘n Egiptiese span, Al Ahly. Pirates se afrigter, José Riveiro, sê sy spelers het alles gegee:
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, is in die tweede ronde van die Monte-Carlo-meesterstoernooi uitgeskakel. Die Chileen, Alejandro Tabilo, het die Serwiër onverwags op die kleibaan geklop. Die vierde-gekeurde Noorweër, Casper Ruud, het die Spanjaard Roberto Bautista Agut maklik verslaan om die derde ronde te haal, terwyl die sewende-gekeurde Rus, Andrey Rublev, die Fransman Gael Monfils geklop het. Grigor Dimitrov van Bulgarye het met die promotorskeuse, Valentin Vacherot van Frankryk, afgereken.
En ten slotte: Die Amerikaanse tennis legende Billie Jean King sê sy wil nie die laaste sportster wees aan wie ‘n ster op Hollywood se Walk of Fame toegeken word nie. Die 81-jarige is vereer in die nuwe sportvermaaklikheid-kategorie op die beroemde sypaadjie in Los Angeles, wat vroeër tot sterre van rolprent, televisie, radio, teater en musiek beperk was. King het 39 enkel- en dubbelspel- Grand Slam-titels gewen, en die WTA-liggaam gestig vir beroepsvrouespelers. Sy is ook ‘n voorstander van geslagsgelykheid en maatskaplike geregtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….