Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 9 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Springbokke se eenpunt-heldedade tydens 2023 se Wêreldbekertoernooi in Frankryk het verlede jaar gelei tot ‘n reeks wat die rekord verbeter het op M-Net. Die reeks van vyf episides, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, het die meeste kykers gehad vir DStv kanaal 101 se tradisionele fliekaand-gleuf om agt-uur op ‘n Sondagaand, en gewilde Hollywood-produksies en -programme oortref. Multichoice se uitvoerende hoof, Byron du Plessis, sê dis ‘n skitterende voorbeeld van hoe wêreldgehalte storie-vervaardiging diep in die harte van Suid-Afrikaners weergalm.
# Sewe-honderd-25 werklose dokters en 30 mediese praktyke het binne slegs ‘n paar weke by die nuwe finDR-platform aangesluit. Dit ondersteun jong, werklose dokters in Suid-Afrika deur hulle in verbinding te bring met mediese praktyke wat hulp nodig het of nuwe gegradueerdes wil aanstel. Zulé Vuuren van Profmed sê finDR help nie slegs jong beroepslui om waardevolle werksgeleenthede te kry nie, maar versterk ook die gesondheidsorgsektor deur personeeltekorte op te los:
# Die Nelson Mandela-museum verwelkom ‘n groep studente van verskillende Duitse hoër onderwysinstellings vir ‘n twee weke lange internasionale jeugkamp in Qunu in die Oos-Kaap. Die kamp is gemik op die uitruiling van interkulturele verskeidenheid, geopolitiek, toerisme en die rol van wyle oudpresident Nelson Mandela en ander vryheidsvegters in die vryheidstryd. Die Oos-Kaapse LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Sibulele Ngongo, het aan die SABC gesê dialoog en gedeelde ondervindings van die jeug van uiteenlopende kulture is belangrik:
# Die agste rolprent in die ikoniese Mission Impossible-franchise, Mission: Impossible – The Final Reckoning, maak volgende maand sy eerste amptelike buiging op die Cannes-rolprentfees in Frankryk. Tom Cruise is weer in die rol van Ethan Hunt saam met sy medespelers, Angela Bassett, Hayley Atwell, Ving Rhames en Simon Pegg. Cruise en die regisseur en skrywer, Christopher McQuarrie, sal die première bywoon, wat Cruise se derde keer in Cannes sal wees. Die fliek word op 23 Mei wêreldwyd vrygestel.
# En ten slotte: Die platform-speletjie, Astro Bot, was die groot wenner op die BAFTA-speletjietoekennings. Dit het vyf toekennings ontvang, waaronder beste speletjie van die jaar en beste animasie. Die sielkundige riller-speletjie, Still Wakes the Deep, het drie ontvang. Die toekenning vir beste toneelspel gaan aan Alec Newman vir sy rol as Cameron McLeary in Still Wakes the Deep en die legendariese komponis, Yoko Shimomura, is ook vereer. Astro Bot se regisseur, Nicolas Doucet, het ontwikkelaars geloof wat ander geïnspireer het om by die bedryf aan te sluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….