Nuus 14:00
BULLETIN 9 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die regering van nasionale eenheid word bedreig deur ‘n wettigheidskrisis
# Die EFF eis ‘n onmiddellike verduideliking oor die ontplooiing van die Weermag by betogings oor die verkragting van ‘n Oos-Kaapse meisie
# En sokker: Skeidsregters gaan lyfkameras dra tydens die Klub-Wêreldbekertoernooi
# Cope waarsku dat die regering van nasionale eenheid, wat na Mei 2024 se verkiesing ontstaan het, ‘n wettigheidskrisis ondervind wat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie bedreig. Pakes Dikgetsi van COPE sê die regering, ondersteun deur ‘n minderheid kiesers te midde van ‘n gebrek aan belangstelling, stort in duie weens ‘n magstryd tussen die ANC en die DA, ‘n koalisie wat meer gefokus is op selfbehoud as op die wil van die mense:
# Die EFF eis volle deursigtigheid, aanspreeklikheid en ‘n onmiddellike verduideliking oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat saam met die polisie ontplooi is na die #JusticeForCwecwe-betogings in Matatiele in die Oos-Kaap. Die party sê hierdie daad van staatsgesteunde intimidasie is ‘n oorlogsverklaring teen jongmense en stemloses deur ‘n regering wat soldate stuur om kinders se hulpkrete te onderdruk. Die EFF sê president Cyril Ramaphosa het nie regstreeks aandag geskenk aan die verkragting van die meisie nie, al het dit ‘n nasionale kwessie geword.
# Die DA het die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, se bevestiging verwelkom dat ‘n skeduleringsfout die afgelope naweek daartoe gelei het dat die Afrikaanse nuusbulletin op SABC2 nie uitgesaai is nie. Die DA-lid, Willie Aucamp, sê hulle sal voortgaan om die uitsending van die bulletin oor die naweek te monitor om te verseker sulke foute gebeur nie weer nie:
# Die minister in die Presidensie vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, het die belangrikheid beklemtoon van Afrika-eenheid en samewerking te midde van globale uitdagings. Suid-Afrika is in Pretoria gasheer vir Liberië se minister in die Presidensie, Mamaka Bility. Ramokgopa sê hulle het gemeenskaplike belange bespreek om die bevordering van ontwikkeling en solidariteit oor die vasteland uit te brei:
# Sokker: Skeidsregters by vanjaar se Klub-Wêreldbekertoernooi sal met lyfkameras toegerus en beveel word om nuwe reëls toe te pas om tydmors deur doelwagters te verminder. Die kameras sal op ‘n proefbasis gebruik word nadat dit verlede maand goedgekeur is. Die voorsitter van FIFA se skeidsregterskomitee, Pierluigi Collina, sê hulle dink dit sal kykers ‘n nuwe ervaring bied vanuit ‘n kamerahoek wat nog nooit voorheen aangebied is nie. Die visuele beelde sal ook vir afrigtingsdoeleindes gebruik word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-70-sent teen die dollar, 21-rand-74-sent teen die euro en 25-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-296-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-39-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 59-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….