Eko-minuut 13:30
BULLETIN 9 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovering gaan vra vir voorstelle om grootskaalse waterstofprojekte van stapel te stuur, as deel van sy tienjaarplan tot 2032. Die waarnemende hoofdirekteur, Mandy Mlilo, het tydens die tweede Waterstof- en Brandstofsel-konferensie gesê die regering beoog om openbare privaat navorsing en ontwikkelingsamewerking te ondersteun. Sy sê meer as 1,4-miljard-rand is reeds in Waterstof Suid-Afrika belê. Mlilo beklemtoon die fokus is nou op die kommersialisering van plaaslik-ontwikkelde intellektuele eiendom, die bou van vaardighede en die vermindering van waterstofproduksiekoste vir ‘n groener ekonomie.
# Die aantal rysproduserende lande word al hoe minder en kenners waarsku dat klimaatsontwrigting toekomstige wêreldvoorraad kan bedreig. Dit volg te midde van berigte dat Maleisiese rysproduksie van 71-persent to 56-persent gedaal het weens klimaatsverandering. Dit dwing die land om meer rys van Kambodja, Viëtnam en Thailand in te voer. Maleisië verbruik meer as 2,7-miljoen ton rys per jaar, waarvan sowat 30-persent op die oomblik van Kambodja kom. Kundiges sê Maleisië ondersoek tans klimaatveerkragtige ryssoorte, maar langtermyn-oplossings word dringend benodig.
# En ten slotte: ‘n Stormloop van lewensgrootte dierepoppe wat van herwinde materiale gemaak is, gaan ‘n reis van 20-duisend-kilometer van Kinshasa in die Demokratiese Republiek die Kongo na die Arktiese sirkel onderneem. Dit is om bewustheid oor natuurlewe en die bedreiging van aardverwarming te verhoog. Die produksie is ‘n vennootskap van die Ukwanda Puppets and Design Art Collective en die Sentrum vir Mensenavorsing aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Die UWK sê al langs die roete gaan dierepoppe inheems aan die lande by die groep aansluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….