Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TAX Justice SA sê hofuitspraak moet onwettige sigaret-grootbase aan die kaak stel
# Die SA Menseregtekommissie vra vir verskerpte rampgereedheidsplanne na oorstromings in KZN
# En, tennis: Nadal klop Thiem in sy eerste enkelspelwedstryd in bykans ‘n jaar
# Die stigter van TAX Justice SA, Yusuf Abramjee, verwelkom ‘n belangrike regsdeurbraak teen die onwettige tabak-magnate, wat miljarde rand van Suid-Afrika steel. Verskeie sigaretvervaardigers se dringende aansoek om die SA Inkomstediens te verbied om kringtelevisiekameras in hulle pakhuise te installeer, het misluk. Volgens Abramjee moet hierdie maatskappye, insluitende Carnilinx, wat deur die selferkende sigaretsmokkelaar, Adriano Mazzotti, besit word, moet voortaan die wet gehoorsaam wat die Inkomstediens in staat stel om die ware getal sigarette wat vervaardig word, te monitor:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ʼn pleidooi gerig dat menseregte in ag geneem word in die vloedkrisis in KwaZulu-Natal. Dit is in reaksie op die skielike oorstromings en gure weerstoestande wat kwesbare gemeenskappe teister. Die kommissie vra ook die provinsiale regering en betrokke rolspelers om dadelik en vinnig op te tree, terwyl die krisis voortduur. Die kommissie voeg by gemeenskappe moet versigtig wees in hierdie tye en waar moontlik hulle mede-inwoners help.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê herstelwerk aan Clarence-rylaan naby Gordonsbaai sal sowat 80-miljoen rand kos. Dit sluit herstelwerk in aan die Palmietbrug, wat ook skade opgedoen het. Clarence-rylaan is verlede maand heropen met ses stop-en-ry-gedeeltes met enkelbaanverkeer. Dié skilderagtige roete het ernstige skade opgedoen ná verskeie ernstige grondverskuiwings en rotsstortings tydens die Erfenisdag-langnaweek-oorstromings. Die projek sal na verwagting teen die einde van die derde kwartaal voltooi wees.
# Tennis: Die wenner van 22 Grand Slam-toernooie, Rafael Nadal, het Dominic Thiem van Oostenryk in skoon stelle geklop in sy eerste enkelspelwedstryd in bykans ʼn jaar. Die 37-jarige Spanjaard het met 7-6, 6-1 gewen in die ronde van 32 by die Brisbane internasionale toernooi – sy eerste beroepstoernooi sedert hy sy heup by verlede jaar se Australiese Ope beseer het. Nadal het vroeër laat blyk 2024 is sy laaste jaar op toer, maar hy het aan ESPN gesê hy hou sy opsies oop:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-441-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-66-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-81-sent per vat.
# Ten slotte: Die Gautengse polisiekommissaris, Elias Mawela, het bevestig motoriste in Johannesburg is boetes van 28-duisend-rand op Nuwejaarsdag opgelê. Wetstoepassingsbeamptes het 822 arrestasies vir verskillende misdade gedoen wat strek van moord en verkragting tot roof en aanranding. Operasies is in verskeie dele van die middestad gedoen, insluitend Hillbrow en Maboneng. Mawela het die publiek verseker van misdaadvoorkomingsoperasies wat uitgevoer gaan word en erken daar is ‘n tekort aan polisielede. Hy het gesê die polisie het hulle verbind tot ‘n veiliger omgewing vir inwoners en werkers in die middestad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….