Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke se eenpunt-heldedade tydens 2023 se Wêreldbekertoernooi in Frankryk het verlede jaar gelei tot ‘n reeks wat die rekord verbeter het op M-Net. Die reeks van vyf episides, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, het die meeste kykers gehad vir DStv kanaal 101 se tradisionele fliekaand-gleuf om agt-uur op ‘n Sondagaand, en gewilde Hollywood-produksies en -programme oortref. Multichoice se uitvoerende hoof, Byron du Plessis, sê dis ‘n skitterende voorbeeld van hoe wêreldgehalte storie-vervaardiging diep in die harte van Suid-Afrikaners weergalm.
Nog rugbynuus: Zintle Mpupha van die Springbok-sewes-vrouespan sê hulle is vasberade om hul momentum van die eerste twee toernooie van die Wêreld-sewes se Uitdaagreeks te behou. Suid-Afrika, wat tweede op die punteleer is, is in Pole vir die derde en laaste toernooi in die kompetisie. Die top-vier spanne staan ‘n kans om vir die laaste sewes-toernooi van die seisoen te kwalifiseer wat vroeg volgende maand in Los Angeles plaasvind. Mpupha sê hulle is vol vertroue:
# Sokker: Banyana Banyana het ‘n agterstand van een doel uitgewis om Malawi 2-1 te klop in hul tweede vriendskaplike wedstryd op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Suid-Afrika het die Scorchers Saterdag 3-0 verslaan. Hildah Magaia en Amogelang Motau se doele het Desiree Ellis se span van ‘n sege verseker. Banyana Banyana berei voor vir die Vroue-Afrikabekertoernooi wat in Julie in Marokko plaasvind. Ellis sê hulle moet voor dan nog op sekere gebiede verbeter:
# Motorsport: Die verdedigende MotoGP-kampioen, Jorge Martin, hoop om terug te keer tydens die komende naweek se Grand Prix in Katar – as hy ‘n mediese ondersoek slaag. Die Spanjaard het vanjaar se eerste drie wedrenne misgeloop nadat hy beenbreuke opgedoen het tydens botsings in voorseisoense oefenrondes. Hy kan sy buiging vir Aprilia maak nadat hy verlede jaar die titel ingepalm het vir Ducati. Martin is nie seker hy sal fiks genoeg wees om die wedren te voltooi nie, maar wil dit dag vir dag neem.
# En ten slotte, gholf: Die tweemalige kampioen, Bernhard Langer van Duitsland, verwag ‘n emosionele afskeid wanneer hy hierdie naweek die laaste keer aan die Amerikaanse Meesterstoernooi deelneem. Die 67-jarige het die gesogte Groen Baadjie in 1985 en 1993 gewen en sal die 41ste keer in die beroemde toernooi op Augusta in Georgia speel. Hy beskryf sy twee oorwinnings, sy enigste groot titels, as die belangrikste van sy loopbaan. Langer sê hoewel dit sy laaste Meesters sal wees, beplan hy om nog ‘n geruime tyd mededingend te speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….