Nuus 11:00
BULLETIN 9 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanklaer Billy Downer ontken die staat se saak teen Jacob Zuma bevat rassistiese ondertone
# Die EFF betwis die aanvaarding van die fiskale raamwerk in die hof
# En Trump beweer lande smeek om te onderhandel oor tariewe
# Staatsaanklaer Billy Downer ontken oudpresident Jacob Zuma se bewering dat die staat se beskrywing van sy Stalingrad-strategie rassistiese ondertone bevat. Zuma en die Franse wapenvervaardiger, Thales, het ‘n hofaansoek ingedien om die korrupsiesaak rondom die wapentransaksie teen hulle te laat vaar weens onredelike vertragings. Downer sê in hofstukke hy is verstom dat die staat se omskrywing van Zuma se mislukte aanvalle op sy vervolging rassisties is. Hy voeg by enige redelike waarnemer sal sien daar steek geen waarheid in die bewering nie.
# Die EFF het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om by die DA aan te sluit in sy aansoek vir die uitdaging van die 2025/’26 begroting se fiskale raamwerk ten einde dit onwettig en ongrondwetlik te verklaar. Die raamwerk is verlede week in die Parlement aanvaar en sluit ‘n verhoging van 0,5-persent in BTW in wat in Mei in werking tree. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die Parlement se staande komitee oor Finansies se aanvaarding van die raamwerk is nie in ooreenstemming met die wet nie:
# Die DA in die Wes-Kaap is bekommerd omdat niemand nog in hegtenis geneem is na die onlangse moord op vier mans in Gugulethu, Kaapstad, en die afsonderlike skietvoorvalle in Lavender Hill wat tot drie sterftes gelei het nie. Gugulethu het die vierde hoogste moordsyfer in die provinsie waar 158 moorde verlede jaar binne nege maande aangemeld is. Thomas Walters van die DA sê hierdie sinnelose voorvalle van geweld is ‘n teken van die toenemende misdaadprobleme in die provinsie:
# President Donald Trump van Amerika hou vol sy wêreldwye tariewe is noodsaaklik vir sy ekonomiese visie en werkskepping. Die tariewe is nou in werking en sluit ʼn tarief van 104-persent vir China in, asook heffings op sowat 60 lande wêreldwyd wat Amerika die grootste oortreders noem. Die heffings op hierdie lande wissel van elf- tot 50-persent. Trump het by ʼn geleentheid van die Nasionale Republikeinse Kongreskomitee gesê meer as 50 lande het die Withuis genader en gesmeek om oor laer tariewe te onderhandel:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, is deur na die derde ronde van die Monte- Carlo-meesterstoernooi. Die driemalige kampioen het die Australiër Jordan Thompson in drie stelle geklop. Die Italianer Matteo Barrettini het die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev van Duitsland, ook in drie stelle uitgeskakel om die grootste ranglys-sege van sy loopbaan te behaal. Die kampioen van Indian Wells, Jack Draper van Brittanje, het die kleibaanseisoen op indrukwekkende wyse begin deur die Amerikaner Marcos Giron 6-1, 6-1 te verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-67-sent teen die dollar, 21-rand-80-sent teen die euro en 25-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-226-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en- 42-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….