Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Goeie nuus oor brandstofpryse aan die begin van 2024
# Die IVP-leier sê die komende verkiesing sal Suid-Afrika se toekoms bepaal
# En, krieket: David Warner pleit vir die teruggee van sy gesteelde pet
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het aanpassings aan brandstofpryse aangekondig wat vanaf môre geld. Volgens die bestuurder van die departement se Energie-afdeling, Robert Maake, daal pryse hoofsaaklik weens ‘n daling in die prys van ru-olie. Maake sê motoriste kan ‘n voordeel verwag aangesien die heffing van die staatsoliefonds van môre af daal vanaf 26,32- tot nul-sent-per-liter. Hy sê die aanpassing weerspieël die huidige plaaslike en internasionale faktore wat brandstofpryse beïnvloed:
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê die komende verkiesing sal bepaal of die land op ‘n trajek van ekonomiese stagnasie en groeiende skuld bly, en of die weg gebaan word vir die herlewing van Suid-Afrika. Die ekonomiese toekoms is maar net een van die aspekte van die land wat grondliggend bepaal sal word deur vanjaar se verkiesing, maar dit is uiters belangrik. Hlabisa moedig alle Suid-Afrikaners aan om die trek van hulle kruisies hulle top-prioriteit te maak en om steeds met hulle verteenwoordigers op alle vlakke oor alle kwessies te praat.
# Die DA in Johannesburg eis deursigtigheid en ʼn omvattende uiteensetting oor die sakereddingsplanne vir Piotrans. Piotrans, ʼn busbedryfsmaatskappy vir die Rea Vaya-busnelvervoerstelsel, is in sakeredding geplaas. ʼn Woordvoerder van die DA, Tyrell Meyers, sê koppe moet rol by Piotrans en die party sal volhard tot aanspreeklikheid gevestig is:
# Eskom het die suksesvolle afhandeling van die volle ladingverwerpingtoets van Eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad aangemeld. Die toets, wat die naweek gedoen is, is nodig geag na die installasie van nuwe stoomopwekkers, wat voldoen aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Netwerkkode. Eskom onderstreep die belangrikheid van dié finale toets en beplan om ‘n soortgelyke stoomopwekker-vervangingsoperasie te doen op Eenheid 2.
# Krieket: Die uittredende Australiese aanvangskolwer David Warner pleit vir die terugbesorging van sy gesogte “baggy green”-pet wat uit sy bagasie gesteel is terwyl hy op reis was na Sydney vir die derde toets teen Pakistan. Warner het vroeër sy uittrede uit die formaat aangekondig na die beslissende toets wat môre begin. Hy sê die pet is van groot sentimentele waarde en vra die skuldige moet dit teruggee – geen vrae sal gevra word nie. Warner beplan ook om uit die eendag-formaat te tree, maar sal nog in internasionale T20’s speel tot die Wêreldbekertoernooi in Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-565-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-75-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….