Nuus 13:00
BULLETIN 8 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane onbewus van permit vir beplande Geregtigheid vir Cwecwe-betoging
# Amerika stel tariewe in teen eilande waarop net pikkewyne en robbe voorkom
# En rugby: Die Walliese losskakel Dan Biggar kondig sy uittrede aan
# Die Stad Tshwane sê hy het nog nie ‘n aansoek ontvang vir ʼn betoging oor die beweerde verkragting van die sewejarige Oos-Kaapse meisie Cwecwe nie. Justice for SA beplan vandag ʼn reeks optogte in verskeie stede. Die beweerde verkragting het woede ontlok oor verskeie stelselprobleme in die hantering van die saak. Tshwane se owerhede sê hulle is onbewus van enige beplande optrede in die metro en waarsku betogings wat nie goedgekeur is nie, kan optrede verwag.
# ActionSA sê hy sal geen oorweging gee aan die regering van nasionale eenheid voor die BTW-verhoging en wysigings aan die inkomstebelasting-kerf nie opgelos is nie. Volgens mediaberigte is daar Maandag tydens die ANC se werkskomiteevergadering onder andere voorgestel dat die koalisieregering verander word om ActionSA in te sluit. Die party se woordvoerder, Matthew George, sê hulle het geen kommunikasie in dié verband van die ANC ontvang nie:
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die nuwe Amerikaanse tariewe op die provinsiale ekonomie gaan hê. Amerika het ʼn tarief van 30-persent ingestel op alle goedere uit Suid-Afrika wat die land binnekom. Mabuyane sê die uitwerking van hierdie tariewe kan Oos-Kaapse uitvoere ernstig benadeel, veral in die voertuig- en sitrus-sektor. Hy sê hulle werk nou saam met die Nelson Mandelabaai-sakekamer om verantwoordelike strategieë te ontwikkel, soos om handelsvennootskappe te wissel:
Die Amerikaanse minister van Handel het intussen die land se besluit verdedig om tariewe te hef op ‘n groep onbewoonde eilande met slegs pikkewyne en robbe. Howard Lutnick het aan CBS gesê die tariewe op die Heard- en die McDonald-eiland is ingestel om belaglike skuiwergate toe maak en sal ander lande keer om skeepsvrag deur die eilande na Amerika te vervoer. Owerhede in Australië was verbaas oor die tariewe op die eilande wat vier-duisend-kilometer van die vasteland af is. Die verskeping van goedere van een hawe na ‘n ander staan bekend as herverskeping en is algemeen in wêreldhandel.
# Rugby: Die voormalige losskakel van Wallis en die Britse en Ierse Leeus, Dan Biggar, gaan die einde van die huidige seisoen uittree. Die 35-jarige sal sy loopbaan by die Franse klub Toulon afsluit. Biggar het 633 punte aangeteken in 112 toetse vir Wallis vanaf 2008 tot 2023, en was ook deel van die Leeus se toer van 2017 na Nieu-Seeland en 2021 na Suid-Afrika. Biggar sê daar kom ‘n tyd wanneer ‘n speler weet dis tyd om op te hou, en dit is nou tyd vir hom vir iets nuuts.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-50-sent teen die dollar, 21-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-994-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-996-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….