Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Krieket Suid-Afrika het 18 nasionale kontrakte en twee hibriede kontrakte vir die 2025/’26-seisoen toegeken. Die snelbouers Kwena Maphaka en Lizaad Williams en die veelsydige Senuran Muthusamy het die eerste keer nasionale kontrakte gekry. David Miller en Rassie van der Dussen het hibriede kontrakte gekry en sal deelneem aan bilaterale toere en Internasionale Krieketraad-toernooie waaroor spesifiek ooreengekom is. Onderhandelinge gaan voort oor Heinrich Klaasen se toekoms. Hy het in die vorige siklus slegs ‘n witbal-kontrak gehad.
Nog krieketnuus: Nieu-Seeland se hoofafrigter in al drie formate, Gary Stead, gaan uittree uit witbal-krieket wanneer sy kontrak in Junie verstryk. Hy sê hy sal in die volgende paar weke besluit of hy weer gaan aansoek doen om die toetsspan af te rig. Stead het die Swartpette in 2021 tot hulle eerste Wêreldtoetskampioenskapstitel gelei en verlede jaar ‘n ongekende toetssege van drie-nul oor Indië behaal. Rob Walter, wat pas bedank het as die Proteas se witbal-afrigter, word genoem as ‘n moontlike opvolger vir Stead.
# Rugby: Die Universiteit Stellenbosch se Maties en Universiteit van Kaapstad se Ikeys meet Maandag in Stellenbosch kragte in die Varsitybeker-eindstryd. Maties is boaan die punteleer, maar moes hard baklei vir hul oorwinning van 19-7 oor die verdedigende kampioen, die Vrystaatse Shimlas, in hulle halfeindstryd op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Ikeys is deur na hul vierde agtereenvolgende eindstryd nadat hulle die Universiteit van Pretoria se Tuks met vyf drieë teenoor vier verslaan het vir ʼn oorwinning van 48-35.
# Gholf: Die vyftienmalige major-wenner Tiger Woods gaan saam met die Augusta Nasionale gholfklub in Georgia werk om ‘n kortbaan van nege-putjies te ontwerp. Woods se argiteksfirma, TGR Design, sal die nuwe baan bou as deel van ‘n opknappingsprogram by die Augusta Munisipale Gholfbaan. Daarbenewens sal sy TGR-stigting sy vierde Leerlaboratorium in Augusta open, wat toegang tot wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, kuns en wiskunde sal bied. Woods, wat al vyf Amerikaanse Meesterstoernooie ingepalm het, sê hy is opgewonde om te sien dat albei projekte ‘n werklikheid word:
# En ten slotte: Nigerië se Olimpiese Komitee het aangekondig hy het die sperdatum van 28 Maart nagekom vir ‘n verklaring van voorneme om 2030 se Statebondspele aan te bied. Nigerië kan slegs formeel aansoek doen met regeringsondersteuning. Die land het ‘n aansoek om 2014 se Spele aan te bied teen Glasgow verloor. Nigerië sê sy aansoek vir 2030 se Spele in die hoofstad, Abuja, sal ‘n unieke geleentheid bied om sy ontwikkeling ten toon te stel, sy wêreldstatus te versterk en sy sportkultuur te vernuwe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….