Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het aanpassings aan brandstofpryse aangekondig wat vanaf môre geld. Volgens die bestuurder van die departement se Energie-afdeling, Robert Maake, daal pryse hoofsaaklik weens ‘n daling in die prys van ru-olie. Maake sê motoriste kan ‘n voordeel verwag aangesien die heffing van die staatsoliefonds van môre af daal vanaf 26,32- tot nul-sent-per-liter. Hy sê die aanpassing weerspieël die huidige plaaslike en internasionale faktore wat brandstofpryse beïnvloed:
# Internasionale padsterftes neem geleidelik af, met die Wêreldgesondheidsorganisasie se jongste verslag wat tien lande aandui wat van 2010 af ‘n 50-persent afname aangeteken het. Dit sluit in Denemarke, Japan, Noorweë, Rusland en Venezuela. Nog 35 het oor die afgelope 13 jaar dalings van tussen 30- en 50-persent getoon het. Die verslag dui op ‘n gemiddelde afname van vyf-persent oor die tydperk, wat omgesit word in ‘n 16-persent daling as die bevolkingsgroei in ag geneem word. Voetgangers, motorfietsryers, fietsryers en bromponiebestuurders maak meer as 50-persent van die padsterftes uit.
# Meer as 200 mediese interns het begin met hulle ondervinding-opleiding in landelike gebiede van die Noord-Kaap. Die LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, het hulle en die indiens-opleidingskandidate by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley verwelkom. Hy het beklemtoon hulle teenwoordigheid in verskeie hospitale in die provinsie dra by tot die algemene verbetering van gesondheidsorg in die onderskeie streke, en gee aandag aan gesondheidsorgbehoeftes in landelike gebiede:
# In die eerste paar uur van 2024 is 411 babas by openbare gesondheidsinstellings in Suid-Afrika gebore. Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê 211 meisies en 200 seuns is gebore, met Gauteng wat die hoogste getal opgelewer het, naamlik 112. In KZN is 84 babas gebore, met die jongste ma ‘n 14-jarige meisie. Noordwes het 33 geboortes aangeteken terwyl 41 babas in Limpopo gebore is. In die Vrystaat is 17 babas gebore, die Oos-Kaap het 52 geboortes aangeteken en die Noord-Kaap 15. In die Wes-Kaap is 29 babas gebore terwyl Mpumalanga 28 geboortes aangeteken het. Die minister het gesondheidswerkers en ondersteuningspersoneel bedank wat oor die feestyd gewerk het.
# En ten slotte: Krieket: Die Proteas se waarnemende kaptein, Dean Elgar, hoop om sy toetsloopbaan op ‘n hoogtepunt af te sluit deur ‘n reeksoorwinning oor Indië te verseker. Die tweede en laaste toets begin môre op Nuweland in Kaapstad nadat Suid-Afrika die eerste toets in Centurion binne drie dae met ‘n beurt en 32 lopies beklink het. Elgar het die kapteinskap oorgeneem nadat Temba Bavuma beseer is. Die 36-jarige Elgar, wat sy toets-uittrede voor die eerste toets aangekondig het, het ‘n briljante 185 aangeteken in die Proteas se enigste beurt op SuperSportpark.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….