Nuus 09:00
BULLETIN 8 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Afrikanerbond is bekommerd oor die verdwyning van Afrikaanse nuus op SABC2
# Die bestuurshoof van Prasa ontmoet Satawu en Untu oor looneise
# En China sê hy sal nie buig voor Trump se jongste tariefverhogings nie
# Die Afrikanerbond sê hy is bekommerd oor die verdwyning van die Afrikaanse nuusbulletin die afgelope naweek sonder enige kommunikasie van die SABC oor die redes vir die besluit. Die SABC Nuus op SABC2 het ‘n lojale gehoor van meer as 300-duisend kykers. Die hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, sê die openbare uitsaaier het in Julie 2014 dieselfde stap gedoen, maar moes sy besluit herroep na druk van die burgerlike samelewing:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Hishaam Emeran, vergader na verwagting vandag met die spooroperateur se twee grootste vakbonde. Dit volg nadat Untu en Satawu ‘n dispuut na die KVBA verwys het oor hul eise vir ʼn loonverhoging van 15-persent. Die vakbonde se eise sluit ʼn mediesefonds-subsidie in waar die werkgewer 70-persent van die premies betaal, asook ʼn klousule wat afleggings vir die duur van die ooreenkoms ononderhandelbaar maak. Prasa sê hy kan nie die loonverhoging bekostig nie.
# ActionSA in Limpopo het die verkragting van ‘n vierjarige meisie in Malepetleke Village, Mokopane veroordeel en sê die regering moet meer doen om kinders te beskerm. ‘n Ses-en-dertigjarige man het glo sy niggie verkrag toe die kind se ma haar verlede Vrydag in sy sorg by hulle huis gelaat het. Hy het Maandag in die hof verskyn waar hy sy borgaansoek laat vaar het. Tshepo Magoma van ActionSA sê dit is een van die wreedste skendings van die mensdom en onskuld:
# China sê hy sal verdere vergeldingstappe doen as die Amerikaanse president Donald Trump sy dreigement uitvoer om ‘n bykomende 50-persent tarief op Chinese goedere te plaas. Die nuwe tarief kan beteken dat sommige Amerikaanse maatskappye wat goedere van China invoer 104-persent invoerbelasting moet betaal. Die Chinese ministerie van Handel sê Trump se dreigement lê weer Amerika se afpersing bloot. Hy voeg by as Amerika sy tariefmaatreëls verskerp, sal China sy regte met teenmaatreëls beskerm.
# Tennis: Die negende gekeurde Daniil Medvedev van Rusland is deur na die tweede ronde van die Monte Carlo-Meesters na hy sy landgenoot Karen Khachanov geklop het. Medevedev se laaste titel was die Rome-Meesters in 2023. Die Italianer Matteo Berrettini het die Argentyn Mariano Navone in twee stelle uitgeskakel en kom nou in ‘n tweede ronde teen die Duitser Alexander Zverev te staan. Gael Monfils van Frankryk het sy indrukwekkende seisoen voortgesit met ‘n oorwinning teen die Hongaar Fabian Marozsan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-47-sent teen die dollar, 21-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-33-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-998-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….