Nuus 07:00
BULLETIN 8 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP bevestig sy onafhanklikheid binne die regering van nasionale eenheid
# AfriForum eis duidelikheid van Eskom oor die registrasie van kragopwekkers
# En die Pretoria High School for Girls wil die rassismeverslag hê
# Die Inkatha Vryheidsparty het sy onafhanklikheid binne die regering van nasionale eenheid beklemtoon. IVP-leier Velenkosini Hlabisa het in gesprek met die media gesê die party is in die RNE vir Suid-Afrikaners. Hlabisa het gesê dit is jammer dat die ANC en die DA optree asof net hulle die oplossing vir Suid-Afrika se uitdagings het. Hy het sy party se verbintenis beklemtoon om sy unieke identiteit te handhaaf, terwyl hy in die regering van nasionale eenheid saamwerk:
# AfriForum het ‘n regsbrief aan Eskom gestuur, waarin hulle duidelikheid eis oor die regulasies wat die registrasie van kleinmaat ingeboude kragopwekkers onder 100 kilowatt vereis. Deidré Steffens van AfriForum bevraagteken die regsgrondslag vir Eskom se afdwinging van hierdie vereiste en moontlike strawwe vir nie-nakoming. Sy sê die organisasie versoek ‘n antwoord teen 18 April, en behou die reg om regsaksie te neem indien Eskom nie die verlangde inligting verskaf nie:
# Die speaker van Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, is gekies as voorsitter van die Interparlementêre Unie van die Afrika-groep Parlemente. Haar verantwoordelikhede sluit in om parlemente van lidlande saam te roep. Didiza sê Suid-Afrika se voorsitterskap van die Afrika-koukus sal verseker parlemente dra by om Afrika die vasteland met die beste prestasie te maak vir menseregte, demokrasie en konflikhantering. Sy sê parlemente moet gemeenskaplike doelwitte vind en hulle weer verbind om konflik te beëindig. Didiza sê konflik in Afrika hou die vasteland terug en lei tot onbestendige regering.
# Die Pretoria High School for Girls se beheerliggaam het weer ‘n hofaansoek ingedien om die onafhanklike ondersoekverslag oor bewerings van rassisme by die skool te laat hersien en tersyde te stel. Die ondersoek handel oor bewerings van leerders se betrokkenheid by ʼn WhatsApp-groep, waar boodskappe met beweerde rasse-ondertone gedeel is. Die Gautengse Onderwysdepartement het in November verlede jaar ʼn opsomming van die bevindings en aanbevelings vrygestel, maar weier om die volledige verslag openbaar te maak. Die beheerliggaam sê die departement is verplig om die verslag bekend te maak.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê sy regering sal veg om ʼn ekonomiese vennootskap met Amerika te verseker, terwyl hy ook probeer om handelsbeperkings met belangrike vennote wêreldwyd te verlaag. Dit volg ná president Donald Trump se omvattende wêreldwye tariewe. Starmer sê die Verenigde Koninkryk sal slegs ʼn ooreenkoms met Amerika aangaan indien dit in die land se nasionale belang is. Hy sê dis tyd vir koel koppe en dringende optrede omdat niemand ʼn handelsoorlog wen nie:
# Krieket: Krieket Suid-Afrika het 18 nasionale kontrakte en twee hibriede kontrakte vir die 2025/2026-seisoen toegeken. Die snelbouers, Kwena Maphaka van die Leeus, Lizaad Williams van die Titans en die veelsydige Senuran Muthusamy van die Warriors het die eerste keer nasionale kontrakte gekry. David Miller en Rassie van der Dussen het hibriede kontrakte gekry en sal aan bilaterale toere en IKR-toernooie waaroor spesifiek ooreengekom is, deelneem. Hy sê onderhandelinge gaan voort oor Heinrich Klaasen se toekoms. Hy het in die vorige siklus ʼn witbal-kontrak gehad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-60-sent teen die dollar, 21-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-271-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-981-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….