Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 7 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se Zip Zap Circus, ‘n energieke produksie wat deur die gees van ubuntu geïnspireer is, is van die 12de tot die 26ste in die New Victory-teater in New York te sien. MOYA spog met tradisionele rubberstewel- en pantsula-danse en wil lig werp op talentvolle jong mense wat hul doel vind deur sirkus-kuns. Zip Zap se dinamiese dansgroep is op 27 April ook die hoofaantrekkingskrag op die New Victory-gesinskonsert. Uitvoerende hoof en medestigter, Laurence van Rensburg, het sy dankbaarheid en opgewondenheid oor die geleentheid uitgespreek.
# Kaapstad se ontluikende kunstoneel gee nuwe lewe aan die middestad se ekonomie. Die 12de Kaapstadse kunsskou waar 124 kunstenaars uit 58 lande uitgestal het, het meer as 30-duisend besoekers gelok. Geleenthede soos Eerste Donderdae en ʼn toename in kunsgalerye weerspieël ʼn post-pandemiese kulturele oplewing. Volgens Kaapstad-Sentraal se stadsverbeteringsdistrik het 19 nuwe kunsateljees in 2023 geopen. Kenners sê die metro se kreatiewe ekonomie het oor die jare beleggings gelok, werksgeleenthede ondersteun en Kaapstad se wêreldwye reputasie as Afrika se hoofstad van moderne kuns versterk.
# Tshwane Universiteit vir Tegnologie se gesogte Kanselierstoekenning is aan Rose Mathole toegeken. Sy het onlangs ʼn B.Ed.-graad in Wiskunde ontvang met 34 onderskeidings uit 36 modules. Mathole skryf haar sukses toe aan twee belangrike strategieë: sy erken wanneer sy die produktiefste was en deel haar kennis met ander. TUT sê Mathole se storie gaan nie net oor syfers nie, maar is ‘n bewys van veerkragtigheid, vasberadenheid en die mag van ʼn sterk visie.
# John Lithgow en Lesley Manville was van die groot wenners op die Olivier-toekennings in die Royal Albert-saal in Londen. Die afgelope jaar se prestasies in Britse teater is gevier. Lithgow is aangewys as beste akteur vir sy rol in Giant terwyl Manville die toekenning vir beste aktrise gewen het vir Oedipus. Eline Arbo het die Sir Peter Hall-toekenning vir beste regisseur opgeraap vir The Years. Die musiekblyspele, The Curious Case of Benjamin Button en Fiddler on the Roof, het ook met drie toekennings elk weggestap.
# En ten slotte: Warner Brothers se kindervriendelike rolprent, A Minecraft Movie, was in sy openingsnaweek die wêreld se grootste lokettreffer. Die rolprent met sterre soos Jason Momoa, Jack Black en Jennifer Coolidge, is gegrond op Mojang Studios se gelyknamige videospeletjie. Dit gaan oor vier wanaangepaste karakters wat skielik in ‘n geheimsinnige portaal ingetrek word na ‘n bisarre wonderlandskap wat op verbeelding floreer. Jason Statham se aksieriller, A Working Man, is tweede en Fathom Entertainment se The Chosen Last Supper – Part 2 is steeds in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….