Nuus 14:00
BULLETIN 7 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile bevestig ‘n hoëvlakvergadering om die begrotingsgeskil in die regering op te los
# Gauteng se Gesondheidsdepartement skuld munisipaliteite 225-miljoen-rand
# En motorsport: Leclerc erken daar’s baie werk te doen aan Ferrari se renmotors
# Adjunkpresident Paul Mashatile het bevestig ANC-leiers vergader vandag om verdeeldheid oor die nasionale begroting binne die regering van nasionale eenheid te bespreek. Hy het op die Ahmed Kathrada-erfenis-sake-ontbyt gesê die vergadering het ten doel om ooreenstemming te bereik ná die DA besluit het om nie die begroting te steun nie. Mashatile herbevestig die regering is steeds verbind tot goeie dienslewering, ekonomiese hervorming en die versekering dat die begroting die mense se voorkeure weerspieël:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het ‘n begroting van 9,83-miljard-rand vir die 2025/’26-boekjaar ter tafel gelê. Begrotingstoewysings sluit 365-miljoen-rand in vir administrasie om voorsiening te maak vir die departement se beurs- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme, verbeteringshulpmiddels, digitale infrastruktuur en energieprojekte. Die toewysings sluit ook 2,5-miljard-rand in vir Openbare Werke-programme, wat instandhouding, tariewe, huurkontrakte, munisipale dienste en bouwerk sal dek. Simmers sê infrastruktuur is meer as slegs bakstene en sement:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement skuld 225-miljoen-rand aan munisipaliteite weens kontanttekorte, faktuurvertragings en ‘n gebrek aan diensvlak-ooreenkomste. Die grootste bedrag verskuldig is 160-miljoen-rand aan die Emfuleni Munisipaliteit vir kostes rakende indiensneming, goedere en dienste, asook 14,9-miljoen-rand aan Midvaal. Johannesburg wag op ‘n uitstaande bedrag van 21,6-miljoen-rand vir water, afvalverwydering en elektrisiteit. Emfuleni is 160-miljoen-rand verskuldig en Ekurhuleni 17,84-miljoen-rand vir dienste in verskeie hospitale. Tshwane wag ook op betalings van 6,11-miljoen-rand en Wes-Randse rade moet vyf-miljoen-rand kry.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het verduidelik daar is nie DNS-monsters geneem van ‘n derde persoon gekoppel aan die sewejarige Cwecwe se verkragtingsaak nie. Die meisie is na bewering in Oktober verlede jaar by ‘n skool in Matatiele in die Oos-Kaap verkrag. Die Ministerie van Polisie sê die aanvanklike opmerkings dat geen DNS geneem is nie, is verkeerd vertolk. Twee DNS-monsters is ingesamel, met verdere toetse wat aan die gang is. Die ministerie het sy verbintenis tot ‘n deeglike ondersoek bevestig en mense versoek om versigtig te wees vir waninligting.
# Motorsport: Charles Leclerc van Ferrari erken dat hulle baie werk het om te doen om hulle motors mededingender te maak. Die bestuurder van Monaco het vierde geëindig in gister se Japannese Grand Prix, 13 sekondes voor sy Britse spanmaat Lewis Hamilton, wat sewende was. Ferrari is reeds 76 punte agter die voorloper, McLaren, in die vervaardigerskampioenskap na net drie wedrenne. Leclerc sê hy hoop die lesse wat by Suzuka geleer is, sal voordelig wees in die volgende wedren in Bahrein:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-35-sent teen die dollar, 21-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-918-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-54-sent per vat..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….