Nuus 11:00
BULLETIN 7 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Nasionale Werkkomitee vergader vandag oor die regering van nasionale eenheid
# Die SAKP sê ‘n nuwe regering kan sonder die DA gevorm word
# En vakbonde wil landwyd betoog teen die Wet op Arbeidsverhoudinge
# Die ANC se nasionale werkskomitee vergader vandag om die pad vorentoe te bespreek wat die regering van nasionale eenheid betref. Die verhouding tussen die twee grootste partye in die koalisieregering, die ANC en die DA, is gespanne nadat die DA verlede week teen die aanvaarding van die fiskale raamwerk gestem het. Adjunkpresident Paul Mashatile sê die DA se rol in die koalisieregering moet nie oorskat word nie en hy voeg by alle partye moet saamwerk ingevolge die verklaring van voorneme.
Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het intussen sy oproep herhaal dat die DA uit die regering van nasionale eenheid verwyder moet word. Die SAKP se sekretaris-generaal, Solly Mapaila, sê die DA het op arrogante wyse aangevoer daar kan nie ‘n regering in die land wees sonder sy insluiting nie, wat onwaar is. Hy voeg by ‘n nuwe regering kan sonder die DA saamgestel word:
# Verskeie vakbonde regoor Suid-Afrika het ‘n landwye betoging beplan teen voorgestelde wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge. Die president van Giwusa, Mametlwe Sebei, waarsku hierdie veranderings kan werkers se regte verswak deur die reg tot stakings te beperk en afdankings toe te laat sonder behoorlike dissiplinêre prosesse. Hy beklemtoon dat sulke wysigings werkgewers in staat kan stel om straffeloos op te tree, wat die beskerming ondermyn wat in Suid-Afrikaanse arbeidsreg gevestig is:
# Die Britse polisie wag op ‘n oorlogsmisdaadverslag teen tien Britte wat in die Israelse weermag in Gaza diens gedoen het. Die verslag van 240-bladsye beweer die mans was betrokke by moorde op burgerlikes en hulpwerkers. Een van die vooraanstaande menseregte-prokureurs in Brittanje, Michael Mansfield, het aan The Guardian gesê die Britse burgers mag volgens wet nie misdade pleeg in Palestina nie. Hy sê die misdade kom neer op oorlogsmisdade of misdade teen die mensdom.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is tevrede met die manier waarop hy tot dusver die seisoen speel. Dit is ondanks die Spanjaard se nederlaag in die halfeindronde van die Indian Wells Ope, en nadat hy onverwags in die eerste ronde van die Miami Ope uitgeskakel is. Die eerste toernooi van die Europese kleibaanseisoen begin hierdie week in Monte Carlo. Alcaraz sê hy voel goed en sien uit daarna om goed te vaar in die meesterstoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-163-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-14-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….