Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val in die nuwe jaar weg met krieket: Krieket Suid-Afrika het ‘n splinternuwe Protea-span aangewys vir Februarie se toetsreeks van twee wedstryde teen Nieu-Seeland. Van die spelers wat tans in die toetsreeks teen Indië speel, is slegs die kolwers David Bedingham, Keegan Petersen en die pas-opgeroepte Zubayr Hamza ingesluit. Neil Brand maak sy debuut as toetsspeler en voer die span aan wat bekende gesigte soos Dane Paterson, Duanne Olivier, Khaya Zondo en Dane Piedt insluit. Die ander nuwelinge in die nasionale groep is Raynard van Tonder, die veelsydige Ruan de Swardt en Mihlali Mpongwana, naatbouler Tshepo Moreki, draaibouler Shaun von Berg en paaltjiewagter Clyde Fortuin.
Nog krieketnuus: Die dinamiese Australiese aanvangskolwer, David Warner, het Maandag sy uittrede uit internasionale eendagwedstryde aangekondig. Hy speel vandeesweek sy laaste toets teen Pakistan, maar hou ʼn agterdeur oop om in 2025 vir die Kampioenetrofee beskikbaar te wees. Australië se afrigter, Andrew McDonald, het die naweek gesê die 37-jarige Warner is waarskynlik die land se beste drieformaat-speler ooit. In Suid-Afrika sal hy onthou word vir sy rol in die omstrede balpeuter-saak in 2018. Hy en kaptein Steve Smith was albei ‘n jaar lank geskors ná hulle aandeel in die drama in Kaapstad.
# Vervolgens, sokker: Mohamed Salah het twee doele aangeteken in Liverpool se oorwinning teen Newcastle United, waarin sy span hulle teenstanders met vier-twee geklop het. Liverpool het nou ‘n voorsprong van drie punte bo-aan die Engelse Premierliga, voor Aston Villa, wat tweede is. Die verdedigende kampioen, Manchester City, lê nog twee punte terug, saam met Arsenal. Salah se eerste doel in die wedstryd, was sy 150ste Premierliga-doel vir die Reds en die bestuurder, Jurgen Klopp, het sy vertoning geprys:
# Volgende aan die beurt is tennis: Die nuwe ma, Naomi Osaka, het die eerste wedstryd ná haar terugkeer gewen deur Tamara Korpatsch in skoon stelle te klop by die Brisbane internasionale toernooi. Die Japanse viermalige Grand Slam-kampioen, wat in haar eerste toernooi in 15 maande gespeel het, het die ongekeurde Duitser 6-3 en 7-6 verslaan. Sy sal volgende teen Karolina Pliskova te staan kom. Osaka het agterna gesê sy is baie trots op haarself en dink sy het ‘n goeie standaard gehandhaaf. Die 26-jarige Osaka het in Julie 2023 geboorte gegee aan haar dogter Shai.
# En, ons sluit af met fietsry: ‘n Voormalige wêreld-fietsrykampioen, Rohan Dennis, word aangekla dat hy sy vrou, die uitgetrede Olimpiese fietsryer, Melissa Hoskins, se dood veroorsaak het. Volgens die polisie is die 32-jarige Hoskins Saterdagaand ernstig beseer in ʼn ongeluk in Adelaide waar sy later in die hospitaal dood is. Die Australiese media berig Dennis is uit op borgtog en sal in Maart in die hof verskyn. Hoskins was ʼn uitgetrede baan- en padren-fietsryer en Dennis ʼn lid van die Australiese span wat by die 2012 Olimpiese Spele silwer gewen het. Hulle is in 2018 getroud en het twee kinders.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….