Nuus 06:00
BULLETIN 7 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is geen waarborg dat die BTW-verhoging geskrap sal word nie
# Rugby: Die Blitsbok-afrigter soek meer bestendigheid
# En Wêreldgesondheidsdag fokus op die oorlewing van vroue en babas
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die sakesektor sal nie die land se politieke pad voorskryf nie, aangesien hulle nie verkies is nie. Dit volg nadat sakeleiers ’n brief aan Ramaphosa en DA-leier John Steenhuisen geskryf en versoek het om nie die regering van nasionale eenheid op te breek nie. Hulle sê dit is belangrik om beleggersvertroue te ondersteun. Ramaphosa het gister by ‘n ANC-geleentheid in Soweto gesê hy neem die kommer van die sakesektor ernstig op:
Ramaphosa het ook daarop gesinspeel dat dit onwaarskynlik is dat die Tesourie ‘n manier sal vind om die BTW-verhoging te skrap. Die begroting is verlede week in die Parlement goedgekeur met ‘n nie-bindende aanbeveling vir die Tesourie om oor 30 dae alternatiewe te vind vir die BTW-verhoging en nie-aanpassing van belastingskale. Hy sê alle opsies word oorweeg:
# Die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsvereniging het Eskom se besluit verwelkom om sy zero-registrasiefooi en gratis slimmeter-installasie tot Maart 2026 te verleng. Die vereniging sê dit verminder koste en bevorder nakoming van sonkragregulasies. Huishoudings wat kwalifiseer kan meer as nege-duisend-rand spaar. Die vereniging sê inwoners moet vinnig optree, aan veiligheidstandaarde voldoen en stelsels registreer om Suid-Afrika se oorgang na skoon energie te ondersteun.
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond verwelkom die ommeswaai in die Gautengse Departement van Gesondheid oor sy plan om dokters se vaste oortydkontrakte af te gradeer. Die vakbond was gekant teen die voorgestelde veranderings met verwysing na die moontlike negatiewe uitwerking op dokters se welstand en die gehalte van pasiëntesorg. Die departement het ingestem tot ‘n drie-maande raadplegingsproses met arbeidsverteenwoordigers om die aangeleentheid volledig te hersien. Die vakbond het dokters gevra om hul huidige oortydverpligtinge in hierdie tydperk te handhaaf.
# Rugby: Springbok Sewes-afrigter, Philip Snyman, is bekommerd oor sy span se gebrek aan bestendigheid. Die Blitsbokke het Australië met 26-7 uitoorlê om die negende plek in die Singapoer-sewesreeks te behaal, terwyl Fidji vir ‘n vierde keer as kampioen gekroon is nadat hulle Kenia met 21-12 in die eindstryd in Kallang verslaan het. Snyman sê hulle het hierdie seisoen vordering getoon, hoewel hulle hoër doelwitte vir hulself gestel het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-26-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-781-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-992-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Wêreldgesondheidsdag word vandag herdenk en kyk na moeders en pasgebores se gesondheid onder die tema “Gesonde begin, hoopvolle toekoms”. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf byna 300-duisend vroue jaarliks as gevolg van swangerskapverwante probleme, met meer as twee-miljoen sterftes onder pasgeborenes. Die veldtog vra hernude wêreldwye belegging om lewens te red. Die organisasie beklemtoon ondersteuning vir vroedvroue, noodsorg en geestesgesondheid. Hy sê moeders en pasgebore babas se gesondheid is ‘n belegging, nie ‘n uitgawe nie. Die veldtog duur tot 2026.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….