Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada het die Gujarat Titans in Indië verlaat en keer weens persoonlike redes na Suid-Afrika terug. Die 28-jarige Rabada het in die Titans se eerste twee wedstryde in die Indiese Premierliga gespeel. Hy het een paaltjie vir 41 lopies platgetrek om Punjab Kings te verslaan en een vir 42 lopies in die oorwinning oor Mumbai Indians. Hy was Woensdag afwesig in die Titans se derde wedstryd teen Royal Challengers Bengaluru. Dis nie bekend wanneer hy terugkeer nie.
# Sokker: Orlando Pirates se hoofafrigter José Riveiro gaan aan die einde van die seisoen uittree. Die Spanjaard het besluit om nie sy driejaarkontrak te hernu wat aan die einde van die seisoen verstryk nie. Riveiro het drie MTN8-titels en twee Nedbank-bekertitels vir die Buccaneers ingepalm. Pirates is nou in die halfeindstryd van die Nedbank-beker en in die kwarteindstryd van die CAF Kampioeneliga. Pirates se voorsitter, Irvin Khoza, sê hoewel hule Riveiro se kontrak wou verleng, respekteer hulle sy besluit ten volle.
# En in nog sokkernuus, FIFA-president Gianni Infantino sê Amerika en die Verenigde Koninkryk is moontlike gasheerlande vir die Vroue-wêreldbeker in 2031 en 2035. Amerika is die enigste land wat gebie het vir die 2031-geleentheid terwyl Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland se bod teen Maandag se sperdatum die enigste geldige een vir die 2035-toernooi was. Infantino sê hulle beplan om die Vroue-wêreldbeker teen 2031 tot 48 spanne uit te brei:
# Motorsport: Die voorloper in die F1-wêreldkampioenskap, Lando Norris het die beste tyd vir McLaren opgestel in die eerste oefenrondte van die Japanese Grand Prix. George Russell van Mercedes en Charles Leclerc van Ferrari was onderskeidelik tweede en derde. Yuki Tsunoda, wat sy buiging vir Red Bull gemaak het, was die sesde vinnigste, net-net stadiger as sy viermalige wêreldkampioen-spanmaat, Max Verstappen. Die tweede oefenrondte is ontwrig deur ‘n rooi vlag na die ongeluk van Jack Doohan van Alpine. Oscar Piastri van McClaren was eerste met sy spanmaat Norris, tweede en Isack Hadjar van Racing Bulls derde.
# En ten slotte tennis: Die wêreld-nommer-elf, Emma Navarro van Amerika, sê sy het ‘n gesamentlike brief onderteken waarin gevra word vir ‘n groot verhoging in Grand Slam-toernooie se prysgeld om te verseker dat spelers gelyke behandeling ontvang. Die wêreld se beste 20 mans- en vrouspelers eis ‘n billiker verdeling van inkomste van die organiseerders van die Australiese, Franse en Amerikaanse Ope, en Wimbledon. Hulle sê laervlak spelers sukkel dikwels weens ‘n gebrek aan gereelde borge en groot uitgawes. Navarro glo dit is goed dat hulle seker maak almal word regverdig behandel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….