Nuus 08:00
BULLETIN 4 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se G20-sjerpa sê daar word vordering gemaak met wêreld-uitdagings
# Wêreldmarkte is in beroering oor Trump se tariewe
# En gholf: Mimi Rhodes van Engeland loop voor in die Johannesburgse Vroue Ope
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se direkteur-generaal, Zane Dangor, sê die land se presidentskap van die G20 maak aansienlike vordering om wêreldwye kwessies te takel deur ‘n inklusiewe en samewerkende benadering. Dangor is ook die land se G20-sjerpa en was gister voorsitter van die tweede virtuele vergadering van die G20-sjerpas in Pretoria. Hy sê hulle wil deur ministeriële en leierskapskanale diepgaande besprekings ontwikkel oor geopolitieke kwessies:
# President Cyril Ramaphosa spreek vandag die 60ste herdenking van die Nasionale Gefedereerde Kamer van Koophandel, NAFCOC, by die Durbanse Internasionale Konferensiesentrum in Duban toe. Die Presidensie sê die geleentheid sal terugkyk oor sestig jaar se toegewyde werk aan die ekonomiese bemagtiging van Afrika-sakeondernemings en voortdurende ekonomiese transformasie. Hy sê die byeenkoms sal ook die prestasies en nalatenskap van die sakekamer se stigtingslede vier wat hulle lewens gewy het aan die bevryding en ekonomiese emansipasie van Suid-Afrika.
# Die langverwagte besluit van die Regterlike Dienskommissie vir die bevestiging van ‘n bevinding van growwe wangedrag teen die geskorste regter van die Gautengse Hooggeregshof, Nana Makhubele, is gister uitgestel. Dit is weens die afwesigheid van die Gautengse premier Panyaza Lesufi wat nie die vergadering kon bywoon nie. Die Regterlike gedragskommissie het Makhubele in Januarie aan wangedrag skuldig bevind. Dit volg na ‘n klagte van die #Unite Behind-instelling dat sy die beginsel van die skeiding van magte oortree het deur dubbele lidmaatskap as voorsitter van Prasa en as ‘n regter,
# President Donald Trump van Amerika hou vol sy wêreldwye tariefpakket sal die ekonomie bevorder. Al drie groot Amerikaanse aandelemarkte het Donderdag laer gesluit, hul ergste dag sedert Junie 2020. Nasdaq het met ses-persent geval terwyl die S&P 500 en die Dow onderskeidelik met 4,8-persent en 3,9-persent gedaal het. Die wêreldmarkte het ook skerp gedaal. Trump sê die markte se reaksie is te wagte, maar vertrou dit sal gou weer regkom:
# Gholf: Mimi Rhodes van Engeland het met agt onder baansyfer 65 klaargemaak om die klubhuis-voorsprong te neem in die eerste ronde van die Johannesburgse Vroue Ope by die Modderfontein-gholfklub. Die Suid-Afrikaner Casandra Alexander is een hou agter haar. Die ronde is weens ʼn hewige reënbui gestaak omdat die baan te nat was, en word vanoggend hervat. Rhodes sê haar oorwinning by die Ford Vroue se NSW Ope in Australië verlede week het haar selfvertroue ʼn hupstoot gegee:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-961-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-90-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….