Nuus 17:00
BULLETIN 3 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum gee die ANC die skuld vir Amerikaanse tariewe op Suid-Afrika
# Helen Zille verklaar oorlog teen die BTW-verhoging met ‘n dringende hofaansoek
# En minister George eis dat Eskom permanent afstand doen van sonkragfooie
# AfriForum gee die ANC se leierskap die skuld vir Amerika se besluit om hoër invoertariewe vir Suid-Afrika op te lê. Uitvoerende hoof, Kallie Kriel, voer aan roekelose beleidbeslissings en gespanne betrekkinge met die VSA het tot hierdie tariewe gelei, wat ongeveer 60 lande beïnvloed. Kriel kritiseer die regering dat hy ideologie bo burgers se belange stel. Hy hou vol dat strafmaatreëls vermy kon word en doen ‘n beroep vir ‘n neutrale buitelandse beleid om die tariewe op te hef:
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, het aangekondig die party gaan regstappe doen om die voorgestelde verhoging van 0,5-persent in BTW op 1 Mei te keer. Zille het buite die Hooggeregshof in Kaapstad bevestig dat sy hofstukke onderteken het om die proses rondom die BTW-verhoging uit te daag. Sy het die parlementêre prosedures wat gebruik is om dit deur te druk, as buite orde en ongeldig beskryf:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het Eskom versoek om sonpaneel-registrasiefooie permanent te staak en sy huidige vrystelling ná Maart 2026 te verleng. Eskom bied sedert Maart 2023 gratis registrasie en slim-meters vir sonkragstelsels van tot 50-duisend volt-amperes in huise, wat eienaars meer as nege-duisend-rand kan spaar. George sê die herinstelling van fooie sal die aanvaarding van hernubare krag belemmer, en moedig Eskom aan om Suid-Afrika se skoon energie-oorgang te steun. Hy het ook die stygende elektrisiteitstariewe gekritiseer en die behoefte beklemtoon aan toeganklike sonkrag-alternatiewe.
# ActionSA vra immigrasie-owerhede om die televisieprediker, Timothy Omotoso, se verblyfreg onmiddellik op te skort en hom na Nigerië te deporteer. Omotoso is gister in die Oos-Kaapse Hooggeregshof vrygespreek op alle aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en mensehandel. ActionSA se president, Herman Mashaba, sê Omotoso moet nooit weer toegelaat word om as kerkleier in Suid-Afrika op te tree nie. Hy sê Omotoso se naam, asook dié van Zukisa Sitho en Lusanda Sulani wat slagoffers gewerf het, moet op die nasionale seksoortreder-register verskyn.
# Rugby: Saterdag se Vrystaatse derby tussen die Cheetahs en Griffons is een van die belangrike wedstryde in die vyfde ronde van die SA-beker. Die SWD Arende is môreaand gasheer vir die Valke in George. Die Pumas behoort te veel skietgoed te hê vir die Grens Bulhonde wat onder aan die punteleer is wanneer die twee môre-aand in Nelspruit speel. Die Griekwas kom Saterdag in Kimberley te staan teen Boland Kavaliers en Oostelike Provinsie Olifante speel in Gqeberha teen die Luiperds. Die boonste vier spanne kwalifiseer vir die Curriebeker-Premier-afdeling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-804-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-59-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….