Nuus 16:00
BULLETIN 3 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille verklaar oorlog teen die BTW-verhoging met dringende regstappe
# Minister Kubayi vra ‘n volledige verslag van die Nasionale Vervolgingsgesag oor die Omotoso-saak
# En motorsport: Lawson erken hy was geskok omdat hy na net twee wedrenne uit Red Bull geskop is
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, het aangekondig die party gaan regstappe doen om die voorgestelde verhoging van 0,5-persent in BTW van 1 Mei te keer. Zille het buite die Hooggeregshof in Kaapstad bevestig dat sy hofstukke onderteken het om die proses rondom die BTW-verhoging uit te daag. Sy het die parlementêre prosedures wat gebruik is om dit deur te druk, as buite orde en ongeldig beskryf:
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, het haar diep kommer uitgespreek oor die hantering van die saak teen die Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso nadat hy vrygespreek is op alle aanklagte, insluitend verkragting en mensehandel. Regter Irma Schoeman het die aanklaer se swak kruisondervraging gekritiseer. Kubayi het ‘n volledige verslag van die Nasionale Vervolgingsgesag aangevra om die tekortkominge te evalueer. Sy het die regering se verbintenis tot die stryd teen geslagsgeweld herbevestig en vereis ‘n noukeuriger benadering in die vervolging van sulke sake om geregtigheid vir slagoffers te verseker.
# Suid-Afrika is vandag die gasheer van die tweede G20 Sjerpa-vergadering wat virtueel vanaf Pretoria aangebied word. Die tweedaagse vergadering, word deur die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor, aangebied en fokus op solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid. Kernonderwerpe sluit in skuldweerstand in lae-inkomste lande, die beveiliging van kritieke minerale vir volhoubare ontwikkeling, en die mobilisering van Suid-Afrika se regverdige energie-oorgang. Die eerste Sjerpa-vergadering onder Suid-Afrika se G20-presidentskap het in Desember verlede jaar plaasgevind. Hierdie besprekings lê die grondslag vir die G20-beraad in Desember vanjaar.
# Motorsport: Die Nieu-Seelander Liam Lawson erken hy was geskok toe Red Bull hom na Racing Bulls afgradeer het na net twee wedrenne in die Formule Een-seisoen. Hy is na sy powere vertonings in Australië en Sjanghai vervang met Racing Bulls se Japanese renjaer, Yuki Tsunoda, wat sy langverwagte kans in die hoofspan kry. Lawson sê hy is gefrustreerd oor die min tyd wat hy gekry het, maar fokus daarop om die naweek goed te vaar in Japan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-856-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-86-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-17-sent per vat.
# En laastens, Kaapstad se brandbestryders en die voormalige Springbok-rugbyspeler James Dalton is besig om voor te berei vir die Twee-Oseane halfmarathon die naweek. Jermaine Carelse en Renaldo Duncan neem aan die marathon deel om geld in te samel vir ‘n broodnodige voertuig vir Vrywillige Veldbranddienste. Die span hoop die voertuig sal help om noodreaksie in die metro te verbeter. Die organisasie het dringend hulp nodig en mense word aangemoedig om tydens die wedloop die dapper brandbestryders met skenkings te help.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….