Goeie Nuus 14:30
BULLETIN 3 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Wetenskaplikes sê hulle het die wêreld se kleinste pasaangeëer ontwikkel. Dit is ‘n tydelike polsslag-reguleerder wat kleiner as ‘n ryskorrel is. Dit word ingespuit en deur lig beheer voor dit oplos. Terwyl dit nog jare is voor menslike toetse moontlik is, word die draadlose hartklopapparaat beskou as ‘n vernuwende deurbraak wat vooruitgang in ander mediese gebiede kan bevorder. Die span, wat deur Amerikaanse navorsers gelei word, sê hulle is gemotiveer om die een-persent kinders te help wat met aangebore hartafwykings gebore word, en ‘n tydelike hartklopapparaat nodig het in die week na chirurgie.
# Altesaam 67 jong entrepreneurs neem deel aan Kaapstad se negende jaarlikse #YouthStartCT Entrepreneursuitdaging. Hulle sal oor ‘n tydperk van ses weke in vyf kategorieë meeding – landbou en boerdery, inligtingstegnologie, finansies en sakedienste, toerisme en vervaardiging. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê hulle het vanjaar die meeste aansoeke van jongmense uit Khayelitsha ontvang:
# Meer as ‘n duisend kinders van reg oor Afrika sal hul stemme laat hoor op die tweede tweejaarlikse Afrika-kinderberaad van môre tot Maandag by St John’s College in Johannesburg. Die beraad word aangebied deur Suid-Afrika se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in samewerking met die Nelson Mandela-kinderfonds, en sal fokus op kind-gesentreerde dialoog, beleidsaanbevelings en voorspraak. Dit sal kinders bemagtig om Afrika se toekoms te vorm en hul rol in besluitnemingsprosesse te versterk
# Kaapstad se brandbestryders en die voormalige Springbok-rugbyspeler James Dalton is besig om voor te berei vir die Twee-Oseane-halfmarathon die naweek. Jermaine Carelse en Renaldo Duncan neem aan die marathon deel om geld in te samel vir ‘n broodnodige voertuig vir Vrywillige Veldbranddienste. Die span hoop die voertuig sal help om noodreaksie in die metro te verbeter. Die organisasie het dringend hulp nodig en mense word aangemoedig om tydens die wedloop die dapper brandbestryders met skenkings te help.
# En ten slotte: Die Britse akteur Ralph Fiennes, wat eens gehore betower het in die Oscar-benoemde rolprent “Conclave”, gaan nou sy buiging maak as opera-regisseur in Frankryk. Die Paryse Nasionale Opera het aangekondig die 62-jarige regisseur van verskeie rolprente, insluitend ‘n biografie oor die danslegende Rudolf Nureyev in 2018, sal in Januarie volgende jaar die regisseur van Pjotr Tsjaikofski se “Eugene Onegin” wees in die geskiedkundige Garnier-operahuis. Hy het die opera se titelkarakter gespeel in ‘n rolprentverwerking van die verhaal van liefde, verwerping en berou deur sy suster, Martha Fiennes, in 1999.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….