Nuus 12:00
BULLETIN 3 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N2 naby Knysna is gesluit ná ‘n vragmotor-ontploffing
# Cosatu sê inkomste kan verhoog word sonder om die sukkelende werkersklas verder te belas
# En Louis Liebenberg se borgtog-aansoek word uitgestel tot 2 Julie
# ‘n Bestuurder en ‘n passasier het gesterf toe die vragmotor waarin hulle gevaarlike plofstof vervoer het, vanoggend op die N2 naby die Belvidere-afdraai in Knysna in die Wes-Kaap ontplof en aan die brand geslaan het. ‘n Provinsiale noodreaksiebeampte word in die hospitaal behandel vir damp-inaseming. Die nooddienste het die brand geblus en die owerhede het die gebied afgesper. Motoriste word versoek om alternatiewe roetes te gebruik aangesien die N2 steeds gesluit is tussen die Rheenendal- en die Rooibrug-afrit.
# Cosatu vra die Tesourie om gehoor te gee aan die parlementêre komitee oor Finansies se versoek vir die verskaffing van alternatiewe oplossings vir BTW- en persoonlike belastingvoorstelle. Dit volg nadat die Nasionale Vergadering die fiskale begrotingsraamwerk met aanbevelings goedgekeur het. Matthew Parks van Cosatu sê hy het opbouende alternatiewe inkomste- en uitgawevoorstelle aan die regering en die Parlement voorgelê wat inkomste kan verhoog sonder om die werkersklas en middelinkomste-gesinne verder te belas:
# Die borgtog-aansoek van die beweerde diamant-bedrieër Louis Liebenberg is in die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng, tot 2 Julie uitgestel. Sy regspan het langer tyd gevra om met hom te beraadslaag. Liebenberg en sy agt medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog, rampokkery, geldwassery en oortreding van die Wet op Maatskappye. Hy het na bewering ‘n onwettige diamantskema van 4,5-miljard-rand bedryf. Liebenberg bly in aanhouding en het versoek dat hy vanuit die C-Max-afdeling van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria oorgeplaas word vir privaat vergaderings met sy regspan.
# Rugby: Die Springbok-vroue speel in Julie twee toetse teen Kanada in Pretoria en Gqeberha as voorwedstryde vir die mans se toetse teen Italië. Kanada is tweede op die wêreldranglys en Suid-Afrika 12de. Die Bokvroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê die bevestiging van die toetse is wonderlik omdat hulle teen die wêreld se beste spanne moet speel om gereed te wees vir die Wêreldbekertoernooi. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die toetse sal die Springbok-vroue se groei en status vertoon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-692-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-130-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-37-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik teen hoë temperature in verskeie dele van die Wes-Kaap, wat die Kaapse metropool insluit. Verskeie dele kan van vandag tot Sondag temperature van tot 34 grade Celsius verwag. Die Ramprisikobestuursentrum se woordvoerder, Sonica Lategan, sê die publiek word aangeraai om blootstelling aan hitte te beperk, veral dié wat die naweek aan die Twee Oseane-marathon en -halfmarathon deelneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….