Nuus 07:00
BULLETIN 3 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump kondig nuwe wêreldwye tariewe aan, insluitend 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere
# Minister Godongwana sê dit sal moeilik wees vir DA-ministers om die begroting toe te pas
# En die EFF raadpleeg sy prokureurs oor die goedkeuring van die begroting
# President Donald Trump het algemene tariewe van tien-persent aangekondig op alle invoere na Amerika, en dit word Saterdag van krag. Sekere lande sal hoër tariewe moet betaal wat op Amerikaanse handelstekorte gebaseer is. Suid-Afrikaanse uitvoere is onder dié wat die ergste geraak word, met tariewe van 30-persent. China, die VSA se tweede grootste invoerder naas Mexiko, gaan onder die nuwe beleid ‘n tarief van 54-persent betaal. Trump sê Amerika se handelsvennote het dié land jare lank geplunder, beroof en verkrag:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die DA het ʼn streep getrek deur teen die 2025/2026-begroting se fiskale raamwerk te stem. Die rand en Suid-Afrikaanse effekte het Woensdagaand gestruikel omdat die politiek agter die begroting veroorsaak dat die regering van nasionale eenheid moontlik kan ineenstort. Godongwana sê dit sal vir die DA-ministers moeilik wees om programme te bestuur volgens ʼn begroting waarteen hulle gekant is:
Die EFF sê intussen hy gaan met sy prokureurs beraadslaag om te bepaal of hy die fiskale begrotingsraamwerk se aanvaarding in die hof kan betwis. Die party verwerp ʼn BTW-verhoging soos voorgestel in die begroting, en sê kategorieë vir persoonlike belasting moet by inflasie aangepas, en korporatiewe en welvaartbelasting moet verhoog word. EFF-leier Julius Malema hou vol die parlementêre staande komitee oor Finansies het nie die regte prosedure gevolg om die verslag oor die begrotingsraamwerk te aanvaar nie:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sal vandag die hoofrede lewer op die eerste Gautengse beleggingskonferensie in Johannesburg. Die konferensie sal daarop fokus om Gauteng se ekonomiese potensiaal te ontsluit, ter ondersteuning van president Cyril Ramaphosa se doelwit om ekonomiese groei met meer as drie-persent te bevorder. Regeringsleiers, beleggers en kundiges in die bedryf sal die konferensie bywoon om sleutelsektore, insluitend groen energie, vervoer en die digitale ekonomie, te bespreek. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sal ook die konferensie bywoon.
# ʼn Federale regter in Manhattan het die strafregtelike saak teen die stad New York se burgemeester, Eric Adams, permanent verwerp. Hy is in September aangekla van omkopery, telekommunikasiebedrog, sameswering en dat hy veldtog-bydraes van buitelanders ontvang het in ruil vir politieke gunste. Regter Dale Ho sê sy besluit om die saak permanent te verwerp, verseker dat die Trump-administrasie nie die aanklag teen Adams of die stad New York kan gebruik nie. Die Justisiedepartement noem die saak ʼn voorbeeld van politieke bewapening.
# Gholf: Die topgekeurde speler in die Vroue Europese Toer, Cara Gainer, sê sy sien uit om deel te neem aan die Johannesburgse Vroue Ope wat vandag by die Modderfontein-gholfklub afslaan. Die beroepspeler van Engeland neem die eerste keer sedert 2023 deel. Vanjaar se geleentheid sluit in die verdedigende kampioen, Chiara Tamburlini van Switserland, die Suid-Afrikaner Casandra Alexander, en Lucie Malchirand van Frankryk. Gainer sê sy sien uit om haar jaar se goeie begin voort te sit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-749-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-152-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….