Nuus 06:00
BULLETIN 3 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump het 30 persent-tariewe op alle Suid-Afrikaanse uitvoere aangekondig
# Die Parlement het die 2025-begroting goedgekeur
# En die DA gaan die Parlement se goedkeuring van die begroting in die hof betwis
# Die Amerikaanse president Donald Trump het tariewe van 30-persent op alle Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika aangekondig, as deel van sy nuwe wêreldwye tariewe. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die Nasionale Vergadering het die 2025 fiskale raamwerk vir die nasionale begroting aanvaar. Altesaam 194 parlementslede het ten gunste gestem, insluitend die ANC, ActionSA en IVP, terwyl 182 daarteen gestem het, insluitend die DA, EFF, MK, VF Plus en ‘n paar kleiner partye. ’n Voorgestelde BTW-verhoging wat die minister van finansies, Enoch Godongwana in die begrotingsrede ter tafel gelê het, was die twispunt. ANC-hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, sê die werk van die regering moet nou voortgaan:
Die DA sê intussen hy sal vandag stukke by die Wes-Kaapse Hooggeregshof indien om onder meer die Parlement se goedkeuring van die 2025/2026 nasionale begroting te betwis. Willie Aucamp van die DA sê hulle het die voorstelle van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, insluitend die BTW-verhoging teengestaan. Hy sê hulle het onderhandel vir wysigings wat ekonomiese groei en werkskepping sou verseker, want dit is wat Suid-Afrika nodig het:
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson het die aanstelling verwelkom van vyf nuwe trustees vir die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, wat die raad vir die eerste keer in 18 maande ‘n volle kworum gee. Macpherson het hulle aangeraai om dringend ‘n voorsitter te kies en volle samewerking te verseker met ‘n PwC-ondersoek na die 800-miljoen-rand suurstofaanleg-tender. Hy het die herstel van bestuur en verantwoordbaarheid by die Onafhanklike Ontwikkelingstrust beklemtoon, om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder deur verbeterde infrastruktuurlewering.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ‘n uitspraak waarin sy hantering van 250-miljoen-rand wat vir bestralingsonkologiedienste toegeken is, beperk word. Die woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die departement glo ‘n appèlsaak sal sleutelkwessies uitklaar. Hy sê die departement bly daartoe verbind om toegang tot gesondheidsorg vir almal te verseker:
# ‘n Wêreldwye misdaadoperasie op ‘n webwerf op die donker web het gelei tot 79 arrestasies wêreldwyd. Kidflix is een van die grootste platforms vir die seksuele uitbuiting van kinders. Die operasie, ondersteun deur Europol, het een-duisend-393 verdagtes geïdentifiseer en gelei tot die beslaglegging van meer as 91-duisend video’s waarin kinders seksueel misbruik word. Kidflix, wat byna twee-miljoen gebruikers gehad het, het oortreders toegelaat om kinderpornografie te stroom en te deel. Die platform is sedert 2021 aktief en is gesluit ná ‘n gesamentlike ondersoek deur wetstoepassers in 35 lande, met 39 kinders wat beskerm is as gevolg van die operasie.
# Rugby: Ierland se tussentydse afrigter, Paul O’Connell, het Denis Leamy, Mike Prendergast en Colm Tucker as sy hulpafrigters aangestel vir die komende toetse teen Georgië en Portugal. O’Connell het oorgeneem by Simon Easterby wat nou aan die Britse en Ierse Leeus verbonde is onder die voltydse Ierse afrigter, Andy Farrell. Leamy is sedert 2022 Munster se verdegingsafrigter, Prendergast is Munster se aanvalsafrigter, terwyl Tucker Connacht se skrumafrigter is. Die drie sal by die nasionale span inskakel aan die einde van die klubseisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-499-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-158-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….