Nuus 16:00
BULLETIN 2 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Teleurstelling oor die uitspraak in die Omotoso-saak
# Tax Justice SA sê 30-miljard-rand wat van misdadigers verhaal is toon die reuse-probleem met onwettige handel
# En motorsport: Daar gaan groot druk op die Japanse renjaer wees in die naweek se Grand Prix op Suzuka
# Die voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, het die Nasionale Vervolgingsgesag gekritiseer en beskuldig dat hy die slagoffers in die steek gelaat het in saak teen die Nigeriese televisie-evangelis, Timothy Omotoso. Die Hooggeregshof in Gqeberha het hom en sy medebeskuldigdes vrygespreek op 32 aanklagte, insluitend mensehandel. Regter Irma Schoeman het bevind die staat se kruisondervraging was swak. Mkhwanazi-Xaluva vra regshervormings en het die stigting van ‘n komitee aangekondig om sulke sake te hersien.
# Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, sê die 30-miljard-rand wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die afgelope jaar van georganiseerde misdaad verhaal het, beklemtoon ‘n beduidende oorwinning sowe as ‘n sterk waarskuwing. Die Ontvanger het onthul die geld is verhaal na slegs 198 ingewikkelde ondersoeke oor hierdie misdaad. Abramjee sê hierdie syfers moet dien as ‘n waarskuwing oor die miljarde-rand wat steeds van noodsaaklike openbare dienste na misdadigers herlei word:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Wetenskap, Tegnologie en Innovering het die satellietkommunikasiestrategie aan die kabinet voorgelê vir goedkeuring om vir openbare kommentaar te publiseer. Die adjunkminister, Nomalungelo Gina, het die rol van internetverbinding in werkskepping en ekonomiese groei uitgelig. Die strategie het ten doel om ‘n plaaslike satellietstelsel te vestig, wat die afhanklikheid van buitelandse verskaffers sal verminder. Amptenare beklemtoon hoe dringend die inwerkingstelling is om digitale insluiting, noodsaaklike dienste en nasionale veiligheid te bevorder. ‘n Nasionale slypskool sal gehou word om sleutelkwessies te bespreek.
# Motorsport: Yuki Tsunoda se oorname by die Nieu-Seelander Liam Lawson as Red Bull se tweede renjaer het glo die dinamiek van die naweek se Japannese Formule Een Grand Prix in Suzuka verander. Die enigste plaaslike renjaer sal geweldige druk ondervind nadat Lawson ná net twee wedrenne afgegradeer is na Red Bull se tweede span, Racing Bulls. Tsunoda beskryf sy eerste wedren vir Red Bull, sy eerste in die motor en die wedren tuis as ‘n mal situasie. McLaren het die eerste twee wedrenne van die seisoen gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-770-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-117-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch se nuwe rektor en visekanselier, professor Deresh Ramjugernath, beskou akademiese uitnemendheid as een van sy drie fokus-gebiede oor die volgende paar jaar. Hy het gister amptelik sy nuwe rol betree nadat hy oorgeneem het by professor Wim de Villiers, wat twee termyne voltooi het. Ramjugernath sê een van die grootste uitdagings sal ongetwyfeld volhoubaarheid wees en sluit finansiële, maatskaplike en omgewings-volhoubaarheid in:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….