Nuus 08:00
BULLETIN 2 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi sê Suid-Afrika het nuwe leierskap nodig om die idee van ‘n nasionale doel te vestig
# GOOD Party hoop nuwe jaar bring nuwe vooruitsigte vir alle Suid-Afrikaners
# En, ‘n nuwe lewe vir Oscar Pistorius begin Vrydag
# Rise Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê Suid-Afrika het nuwe leierskap nodig om die idee van ‘n nasionale doelwit te vestig wat gegrond is op die gedagte dat die demokrasie aan alle burgers behoort. Hy sê die land moet ʼn samelewing bou wat gebaseer is op die grondwetlike en sosiaal-demokratiese waardes van vryheid gelykheid, geregtigheid, eenheid en integriteit. Zibi sê die land het ʼn nuwe visie nodig om binne een geslag ʼn veilige, vooruitstrewende, gelyke en verenigde Suid-Afrika te bou:
# Die GOOD Party sê hy hoop die nuwe jaar bring nuwe vooruitsigte vir alle Suid-Afrikaners, maar veral vir dié wat dag en nag bekommerd is oor hulle gesinne se oorlewing. Die party sê verlede jaar was buitengewoon moeilik vir Suid-Afrikaners en baie het deurgeloop onder finansiële bekommernisse en probleme. Brett Herron sê die aantal werklose mense, veral onder jong mense, het nie betekenisvol afgeneem nie:
# Die veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius word Vrydag op parool vrygelaat. Die 37-jarige atleet het sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag in 2013 by sy huis in Pretoria doodgeskiet. Hy beweer hy het deur sy badkamerdeur geskiet omdat hy gedink het daar is ʼn inbreker in die huis en het nie geweet Steenkamp was in die badkamer nie. Aanklaers het egter aangevoer hy het haar doelbewus ná ʼn argument doodgeskiet. Korrektiewe dienste sal Pistorius monitor totdat sy vonnis op 1 Januarie 2030 verstryk. Hy mag nie buite die Waterkloof-gebied beweeg sonder vooraf kennisgewing aan korrektiewe dienste nie.
# Koningin Margrethe die Tweede van Denemarke het haar abdikasie in ʼn nuwejaarstoespraak op televisie aangekondig. Sy tree op 14 Januarie amptelik af, presies 52 jaar nadat sy die troon bestyg het. Haar seun, kroonprins Frederik, sal haar opvolg. Die 83-jarige koninklike is die wêreld se enigste regerende koningin en tans die langsdienende monarg in Europa. Koningin Margrethe staan liefdevol bekend as Daisy, en is bekend vir haar rookgewoontes en afkeer van selfone en die internet.
# Fietsry: ‘n Voormalige wêreld-fietsrykampioen, Rohan Dennis, word aangekla dat hy sy vrou, die uitgetrede Olimpiese fietsryer, Melissa Hoskins, se dood veroorsaak het. Volgens die polisie is die 32-jarige Hoskins Saterdagaand ernstig beseer in ʼn ongeluk in Adelaide waar sy later in die hospitaal dood is. Die Australiese media berig Dennis is uit op borgtog en sal in Maart in die hof verskyn. Hoskins was ʼn uitgetrede baan- en padren-fietsryer en Dennis ʼn lid van die Australiese span wat by die 2012 Olimpiese Spele silwer gewen het. Hulle is in 2018 getroud en het twee kinders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-289-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-69-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….