Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 2 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Komodo Nasionale Park in Indonesië is die mooiste plek op aarde volgens reisigers wat aan TimeOut se meningspeiling deelgeneem het. Die UNESCO-wêrelderfenisgebied is ‘n uitsonderlike plek met drie reusestrande met wit, swart en pienk sand. Tweede op die lys is die Victoria-waterval op die grens tussen Zimbabwe en Zambië wat die grootste waterval in die wêreld is. Die Punakha-vallei in Bhoetan is derde en Stormsrivier in die Oos-Kaap is 21ste op die lys.
# Twee jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het op die Internasionale Fees vir Ingenieurswese, Wetenskap en Tegnologie in Tunisië erkenning ontvang vir hul vernuwende navorsingsprojekte. Twee graad 12-leerders aan die St Dominics Newcastle-hoërskool in KwaZulu-Natal, Hamzah Ismail en Vibhav Ramdas, het toekennings ontvang in die kategorieë vir omgewingswetenskap en rekenaarwetenskap. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Hamzah het brons gewen en Vibhav ‘n eretoekenning:
# Die organisasie Charity Begins With Me het sy jaarlikse Mussie-veldtog vanjaar vroeër begin om warmte vir behoeftige kinders te voorsien. Dit volg op Johannesburg se mistroostige weer, met weke van reën en koue nagte. Die stigter van die organisasie, Stephen Ferreira, sê hulle begin gewoonlik eers in Junie met die verspreiding, maar vanjaar wil hulle teen die einde van April begin. Hulle verwelkom die skenkings van wol en mussies wat in Fairland, Johannesburg, gedoen kan word of met PUDO.
# Met topakteurs en ‘n reusebegroting, hoop “A Minecraft Movie” wat hierdie week vrygestel word, om in die voetspore te volg van Super Mario Bros deur ‘n rekenaarspeletjie in ‘n wêreld fliekfenomeen te verander. Kritici wat beperkte toegang tot die fliek gehad het voor vandag se teatervrystelling, met die wêreldpremière Sondag in London, is gevra om hulle resensies terug te hou. Jack Black wat ook in die Super Mario fliek was, verskyn saam met Jason Momoa, Emma Myers, Jennifer Coolidge, Jermaine Clement en Matt Berry.
# En ten slotte: Die Switserse horlosiemaker, Vacheron Constantin, se jongste skepping word beskryf as die ingewikkeldste polshorlosie wat nóg gemaak is. Die eenmalige ontwerp, Solaria, is van 18-karaat witgoud gemaak en bevat meer as 200 diamante. Dit bestaan uit een-duisend-521 afsonderlike onderdele terwyl ‘n gewone meganiese horlosie gemiddeld 130 het. Vacheron Constantin se styl- en erfenisdirekteur, Christian Selmoni, sê die horlosie het vyf funksies wat nog nooit voorheen in horlosies gebruik is nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….