Nuus 08:00
BULLETIN 2 April 2025 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party is gekant teen die fiskale raamwerk en belastingvoorstelle
# Dawie Roodt sê die voorgestelde BTW-verhoging is nie meer nodig nie
# En ses verdagtes is doodgeskiet in gevegte met die polisie in Soweto
# Die MK-party is sterk gekant teen die 2025 fiskale raamwerk en belastingvoorstelle wat deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, ingedien is. Die parlementêre komitee oor Finansies het gister vergader en die ANC, ActionSA en IVP het saamgespan om die fiskale raamwerk met streng voorwaardes te aanvaar. Die MK-party sê die voorgestelde maatreëls in die fiskale raamwerk, insluitend die BTW-verhoging van 0,5-persent, bied nie ‘n volhoubare en billike oplossing vir alle Suid-Afrikaners nie.
# Die ekonoom Dawie Roodt sê intussen dit is nie meer nodig om BTW met 0,5-persentasiepunte te verhoog nie aangesien die Suid-Afrikaanse Inkomstediens byna tien-miljard-rand meer as verwag ingevorder het. Die voorgestelde BTW-verhoging is ʼn groot struikelblok in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se nasionale begroting waaroor vandag in die Parlement gestem word. Roodt sê die Inkomstediens was onlangs baie doeltreffend om betalers van persoonlike inkomstebelasting in die net te vang:
# Ses verdagtes is gister in twee afsonderlike skietgevegte met die polisie in Soweto, Gauteng, doodgeskiet. Twee vermeende geldwa-rowers is in Dobsonville doodgeskiet en vyf ander is gearresteer, terwyl daar ook op vuurwapens en ammunisie beslag gelê is. Die Polisieministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê in die twee voorval in Moletsane, het ʼn span gereageer toe twee RAM Courier-voertuie beroof is:
# New Jersey se Demokratiese senator, Cory Booker, het die langste toespraak ooit in die Amerikaanse Senaat gelewer. Hy het 25 ure en vier minute gepraat wat langer is as wyle senator Strom Thurmond se toespraak in 1957 teen die Wet op Burgerregte wat 24 ure en 18 minute geduur het. Booker het die poging as ʼn betoging beskou en die hele tyd president Donald Trump se administrasie gekritiseer. Hy noem dit ʼn ernstige en dringende oomblik in Amerikaanse geskiedenis:
# Tennis: Stan Wawrinka van Switserland het sy eerste toer-sege van die seisoen in die eerste ronde van die Tiriac Ope in Boekarest, Roemenië, behaal toe hy die kwalifiseerder, Timofey Skatov van Kasakstan geklop het. Wawrinka is die derde speler van 40 of ouer wat sedert 1980 ʼn ATP-toer- of Grand Slam-wedstryd op klei wen. Die verdedigende kampioen, Marton Fucsovics van Hongarye, het die Italianer, Luca Nardi verslaan en kom in die tweede ronde, soos in verlede jaar se eindstryd, teen die Argentyn, Mariano Navone, te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-128-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….