Nuus 07:00
BULLETIN 2 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party sê Suid-Afrika se aansoek by die Wêreldhof soek geregtigheid vir Palestyne
# DRK-president Tshisekedi word herverkies na ‘n betwiste stemmery
# En krieket: Neil Brand lei die Protea-span op hulle Nieu-Seelandse toer
# Die GOOD Party sê Suid-Afrika se aansoek teen Israel onder die Volksmoordkonvensie by die Wêreldhof is ‘n welkome poging om geregtigheid vir Palestynse burgerlikes te kry. Brett Herron sê die regering se aansoek is ʼn belangrike geleentheid om die waarheid en hopelik ʼn bindende opdrag vir vrede te vind. Dit moet plaasvind in ʼn onafhanklike internasionale hof in ʼn wêreld wat verdeeld is deur konflik en teenstrydige narratiewe oor geregtigheid:
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, skryf die ondermyning van instellings soos Eskom toe aan die oorweldigende krag van hebsug. Gordhan beweer die ware meesterbreine agter die korrupsie wat Eskom teister, is steeds op vrye voet. Business Tech sê Gordhan meen korrupsie sal voortduur indien wetstoepassers en die Nasionale Vervolgingsgesag nie beslissend optrede om dié sleutelfigure vas te trek nie. Gordhan beklemtoon die dringende behoefte om die kultuur van korrupsie binne Eskom se ekostelsel te bekamp om die instelling se integriteit en doeltreffendheid te verseker.
# Greg Molfetas van Ixande Addiction and Psychiatric Clinic het gewaarsku dat kinders van so jonk as 12 reeds met dwelms eksperimenteer. Dit volg nadat ʼn nuwe dwelm, Pink Cocaine, in die Stad Kaapstad en dele van Johannesburg opgemerk is. Molfetas het aan eNCA gesê straatdwelms het maklik beskikbaar geword met ouers wat hulp soek om hulle kinders te rehabiliteer. Hy beklemtoon behandelingsentrums verskerp voorkomingsprogramme om jongmense se toenemende blootstelling aan en gebruik van dwelms te hanteer:
# Die Demokratiese Republiek van die Kongo se president, Felix Tshisekedi, is vir ʼn tweede termyn herkies nadat hy in Desember se verkiesing meer as 73-persent van die stemme gekry het. Die land se verkiesingskommissie het die uitslag bevestig dae nadat die opposisie gekla het oor die manier waarop die verkiesing gehou is. Tshisekedi het meer as 13-miljoen van die meer as 18-miljoen geldige stemme gekry met ʼn stempersentasie van ongeveer as 43-persent. Politieke partye het twee dae tyd om die uitslag van die verkiesing in die Konstitusionele Hof te betwis. Die hof het dan sewe dae tyd om oor die saak te beslis en die finale uitslag aan te kondig.
# Krieket: Krieket Suid-Afrika het ʼn splinternuwe Protea-span aangewys vir Februarie se toetsreeks van twee wedstryde teen Nieu-Seeland. Van die spelers wat tans in die toetsreeks teen Indië speel, is slegs die kolwers David Bedingham, Keegan Petersen en die pas-opgeroepte Zubayr Hamza ingesluit. Neil Brand maak sy debuut as toetsspeler en voer die span aan wat bekende gesigte soos Dane Paterson, Duanne Olivier, Khaya Zondo en Dane Piedt insluit. Die ander nuwelinge in die nasionale groep is Raynard van Tonder, die veelsydige Ruan de Swardt en Mihlali Mpongwana, naatbouler Tshepo Moreki, draaibouler Shaun von Berg en paaltjiewagter Clyde Fortuin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-315-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-69-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het ʼn spesiale, amptelike, provinsiale kategorie twee-begrafnis toegeken aan die legendariese en internasionaal bekroonde dramaturg, komponis, regisseur en teatervervaardiger, Mbongeni Ngema. Die premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube, sê Ngema het homself onderskei as ʼn ware Suid-Afrikaanse legende wat kreatiewe kuns en teater gebruik het om by te dra tot die vryheid wat die land vandag geniet. Ngema is Woensdag, 27 Desember, op pad van die Oos-Kaap na KwaZulu-Natal in ʼn motorongeluk dood. Verdere besonderhede oor sy begrafnis sal nog bekend gemaak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….