Nuus 17:00
BULLETIN 1 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mediese Vereniging gaan die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in die hof betwis
# Die minister van Elektrisiteit sê Suid-Afrika benodig 440-miljard-rand om die kragnetwerk te moderniseer
# En goeie nuus met brandstofpryse wat môre skerp daal
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het ‘n regsgeding teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering aanhangig gemaak, na aanleiding van kommer oor die uitvoerbaarheid en uitwerking daarvan op dokters, pasiënte en die gesondheidsorgstelsel. Die vereniging voer aan die wet skep burokratiese hindernisse wat toegang tot sorg beperk sonder duidelikheid oor noodsaaklike dienste, verkryging en pasiëntregistrasie. Die voorsitter van die vereniging, Mvuyisi Mzukwa, waarsku privaat dokters se werkslading sal onrealisties toeneem maar hulle sal minder verdien:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika benodig 440-miljard-rand om die elektrisiteitsnetwerk te moderniseer en uit te brei. Die plan sluit die opgradering van transmissie-infrastruktuur in om energie-sekerheid te verbeter en hernubare krag te ondersteun. Ramokgopa het aan die media gesê die staat se finansiële beperkings beteken die regering moes hom wend tot onafhanklike verspreidingsvoorsieners om die nodige opgraderings te befonds:
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het aangekondig brandstofpryse gaan môre daal, met die prys van 93-oktaan petrol wat met 58-sent per liter daal en 95-oktaan met 72-sent per liter. Dieselpryse daal met tussen 84- en 86-sent per liter. Robert Maake van die departement sê die aanpassings word toegeskryf aan laer ruoliepryse en ‘n sterker rand:
# China het vandag sy Leër, Vloot en lug- en vuurpylmagte gestuur om Taiwan te omsingel vir grootskaalse oefeninge wat, volgens Beijing, daarop gemik is om te oefen vir presisie-aanvalle en ‘n versperring van die selfregerende eiland. Taiwan het sy eie vliegtuie en skepe gestuur en landgebaseerde missielstelsels ontplooi, en Beijing die wêreld se grootste moeilikheidmaker genoem. Die oefeninge volg nadat die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, Sondag in Japan gesê het die Verenigde State verseker geloofwaardige afskrikking regoor Taiwan.
# Krieket: Die jong aanvangskolwer Sam Konstas het sy eerste sentrale kontrak by Krieket Australië losgeslaan vir die volgende seisoen. Dit sluit Junie se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Suid-Afrika in, asook die reeks om die As teen Engeland. Die 19-jarige het in Desember beïndruk teen Indië toe hy met sy debuut 60 lopies van net 65 balle aangeteken het. Hy is een van 23 spelers wat kontrakte ontvang het. Die hoof-keurder, George Bailey, sê Konstas word gesien as ‘n belowende jong speler wat sal aanhou ontwikkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-720-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-130-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….