Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 1 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# SANParke het 24 elite-veldwagters gegradueer, wat sy See-, Lug- en Bergspan in die Tafelberg Nasionale Park verdubbel. Woordvoerder JP Louw sê die span se bedrywighede sluit in honde-eenhede, lugondersteuning en seevaartpatrollies. Hy sê die veldwagters, wat opgelei is in para-militêre operasies, sal die veiligheid van besoekers verseker en omgewingsbeskerming verbeter. Louw sê die veldtog sal pogings teen stropery, rooftogte en onwettige plantversameling versterk, wat sekerheid in beskermde gebiede verseker.
# Veertig-duisend onderwysers is opgelei in kodering danksy Tangible Africa se vennootskap van drie jaar met die Departement van Basiese Onderwys en onderwysersvakbonde. Die onderwysers het tussen 2022 en verlede jaar opleiding ontvang in onder meer die BOATS- en TANKS-toepassings. Dit het gelei tot die stigting van koderingsklubs in skole en verhoogde deelname aan kompetisies soos Coding4Mandela. Tangible Africa sê die vennootskap stel skole met beperkte hulpbronne in staat om doeltreffend onderrig te gee in robotika en koderingsteorieë sonder die gebruik van toestelle.
# ‘n Vernuwende projek om die jeug se stem in die media te laat groei het aanleiding gegee tot ʼn digitale joernalisme-sentrum by die Nelson Mandela Universiteit. Dit stel studente se skryfwerk bloot aan nasionale media en nuwe aanlyn ondernemings. Khulani! is ʼn webtuiste wat eerstejaarstudente ondersteun wat vir ʼn verpligte module oor media-skryfkuns ingeskryf is, sodat hulle publiseerbare en professionele aanlyn glansartikels kan skryf. Meer as die helfte van die stories wat uitgegee is, is reeds weer gepubliseer deur aanlyn inhoudvennote soos Health for Mzansi, MyZA en GoodThingsGuy.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap sê India Arie se liedjie I Am Not My Hair, het die gemeenskap se maatstaf vir skoonheid bevraagteken dat iemand se waarde of identiteit aan sy voorkoms gekoppel word. ‘n Persoon se hare verteenwoordig ook sy geskiedenis, kultuur en persoonlike identiteit. ‘n Tweedejaarstudent in Inligtingstelsels aan die UWK, Zoe Groep, sê die neiging dat al hoe meer mense hul hare in hul natuurlike vorm dra, daag uitgediende maatstawwe vir skoonheid uit:
# En ten slotte: Die bekroonde regisseur, Sam Mendes, maak vier flieks oor die Beatles wat na verwagting in April 2028 in teaters sal wees. Dit fokus op elke lid van die groep en die akteurs wat te sien sal wees, is Paul Mescal as Paul McCartney, Harris Dickinson as John Lennon, Joseph Quinn as George Harrison en Barry Keoghan as Ringo Starr. Mendes, wie se vorige werke American Beauty en Skyfall insluit, sê die flieks bied geleentheid om die beste musiekverkopers van alle tye ʼn bietjie beter te verstaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….