Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: David Brits en Sebastiaan Jobb is opgeroep om by die Springbok-sewes aan te sluit voor die naweek se wêreldreekstoernooi in Singapoer. Hulle vervang die beseerde Quewin Nortjé en Gino Cupido. Die Blitsbokke het die afgelope naweek op die Hongkongse Sewes gesukkel en negende geëindig. Brits sê hy is vol vertroue die span kan beter doen in Singapoer, waar hulle in Groep A met Groot-Brittanje en Argentinië kragte meet:
Nieu-Seeland Rugby en Ineos het hul twis oor ‘n borgskaps-kontrak bygelê. Die Britse chemiese reus is daarvan beskuldig dat hy die ooreenkoms oor sy kontrak van ses jaar geskend het. Die maatskappy van die miljardêr Jim Ratcliffe het volgens berigte sonder meer sy groot kontrak drie jaar vroeg opgeskort en nie vanjaar se eerste betaling gemaak nie. Albei partye sê hulle is tevrede met die uitkoms, terwyl die besonderhede daarvan vertroulik bly.
# Tennis: Die Miami Ope-kampioen, Jakub Mensik, het byna nie in die toernooi gespeel nie. Die 19-jarige Tsjeg wou die toernooi-skeidsregter inlig hy kan nie sy eerste wedstryd teen die Spanjaard Roberto Bautista Agut speel nie weens inflammasie in die knie. Die skeidsregter was egter op middagete en Mensik is na sy fisioterapeut, wat hom ander pynpille voorgeskryf het. Hy het daarna sy eerste wedstryd en uiteindelik die titel gewen. Mensik se algehele prysgeld het nou opgeskiet na 55,6-miljoen-rand, en sy posisie op die wêreldranglys van 54ste na 24ste.
# Sokker: Manchester United se afrigter, Ruben Amorim, sê die energie is anders by die span na hulle mini-herlewing. Hy erken hulle selfvertroue is wankelrig terwyl hulle voorberei vir die tydperk na die internasionale rusperiode. United, wat vandag na die triomfantlike Nottingham Forest reis, is in die 13de posisie op die Premierliga-punteleer – 12 punte agter die top vier spanne met nege wedstryde oor. Hulle is egter onoorwonne in sewe wedstryde in alle kompetisies, al is hulle uit die FA-bekerkompetisie geskakel.
# En ten slotte, gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland is slegs die tweede speler na die Amerikaner Tiger Woods om meer as 1,8-miljard-rand se prysgeld op die PGA-toer te verdien. Hy het dit vermag toe hy gesamentlik vyfde was in die Houston-ope. Die 35-jarige McIlroy het 28 toernooie gewen sedert sy beroepsbuiging in 2010. Die 49-jarige Woods het die mylpaal in 2012 bereik en sedertdien nog 400-miljoen-rand verdien. Nog ‘n Amerikaner, Phil Mickelson, het 1,7-miljard verdien tot hy PGA in 2022 verruil het vir LIV Gholf, waar hy glo nog 3,6-miljard-rand ingepalm het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….