Nuus 18:00
BULLETIN 31 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se komitee op Vervoer waarsku oor ‘n ekonomiese terugslag vir Suid-Afrika met Amerikaanse voertuigtariewe
# Binnelandse Sake verleng sy visum-toegewing tot September
# En sosiale media word oorstroom met versetoptrede en versoekskrifte na die verkragting van ‘n Oos-Kaapse kind
# Die Parlement se portefeuljekomitee op Vervoer waarsku dat Amerika se besluit om ‘n heffing van 25-persent op buitelands-vervaardigde voertuie en onderdele te plaas, Suid-Afrika se motorbedryf sal beïnvloed. Suid-Afrika het vroeër tariefvrye toegang ingevolge AGOA geniet, en in 2023 is voertuie en onderdele ter waarde van 27,9-miljard-rand na Amerika uitgevoer. Die komitee se voorsitter, Donald Selamolela, het aan Newzroom Afrika gesê dit kan Suid-Afrika se voertuiguitvoere en ekonomiese groei benadeel:
# Die Departement van Binnelandse Sake het vandag se sperdatum vir visum-toegewings tot 30 September verleng. Minister Leon Schreiber het die verlenging aangekondig en verwys na drukfoute wat vertragings veroorsaak het. Business Tech berig visumhouers wat wag op uitkomste vir kwytskeldings, appèlle en langtermynaansoeke kan tot die nuwe sperdatum in Suid-Afrika bly. Hulle word ook toegelaat om onder spesifieke omstandighede die land te verlaat en weer binne te kom om aansoekers wat geraak is, so min as moontlik te ontwrig.
# ‘n Versoekskrif wat geregtigheid eis vir die sewejarige Cwecwe wat by die Bergville-kollege in Matatiele in die Oos-Kaap verkrag is, het meer as 670-duisend handtekeninge gewerf. Die uitstorting van ondersteuning duur voort, met ‘n optog wat môre in Kaapstad sal plaasvind. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het op die Uyinene Mrwetyana-gedenklesing in Makhanda gesê die voorval in Oktober verlede jaar het tot nasionale verontwaardiging gelei, met die skool wat beskuldig word dat die situasie verkeerd hanteer is:
# Franse mededingingsowerhede het Apple ‘n boete van drie-miljard-rand opgelê oor die privaatheidsfunksie van sy opsporingstoepassing. Die owerheid sê die manier waarop Apple sy App Tracking Transparency-sagteware ingestel het, was nie nodig nie en nie in verhouding met die maatskappy se verklaarde doelwit om gebruikersdata te beskerm nie. Derdeparty-uitgewers is ook gestraf. Benewens die boete, sal Apple die beslissing vir sewe dae op sy webwerf moet publiseer. Owerhede in Duitsland, Italië, Roemenië en Pole het soortgelyke ondersoeke oor ATT begin, wat Apple as ‘n beskermingsmaatreël vir privaatheid bevorder.
# Gholf: Johannesburg gaan hierdie week die beste plaaslike en internasionale spelers by die Joburg Vroue-ope verwelkom. Die toernooi, wat gesamentlik deur die Sonskyn-vrouetoer en die Europese Vrouetoer onderskryf word, sal van Donderdag op die Modderfonteinse klub gespeel word. Al tien spelers op die plaaslike merietelys, insluitend nommer een, Casandra Alexander, sowel as sewe van die voorste spelers van die Europese Toer sal deelneem. Die verdedigende kampioen, Chiara Tumburlini van Switserland, sal ook daar wees. Die prysgeld is vanjaar 5,9-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-904-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-111-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….