Nuus 12:00
BULLETIN 31 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister George sê Suid-Afrika se kuslyn is ‘n nasionale bate wat bedreig word
# Ramaphosa sê die regering fokus op veilige en betroubare watervoorsiening
# En Bloubergstrand se inwoners skop vas teen Stad Kaapstad se goedkeuring van ‘n hotel op die strandgebied
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, beklemtoon die belangrikheid van die beveiliging van Suid-Afrika se kuslyn van drie-duisend-592-kilometer, terwyl sy potensiaal vir regverdige welvaart, klimaatveerkragtigheid en gesonde ekologie ontsluit word. Die minister het die 2025-2030 Nasionale Kusbestuursprogram bekendgestel. Die departement se woordvoerder, Thobile Zulu-Molobi, sê George benadruk die dringendheid van die program wat die fokus plaas op die land se kuslyn as ‘n nasionale bate wat bedreig word:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid wil veilige en betroubare watervoorsiening bied om gemeenskappe te onderhou en ekonomiese groei te ondersteun. Die regering het verlede week ‘n nasionale water- en sanitasie-indaba gehou. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die aanbevelings uit die indaba is rede vir optimisme. Hy sê die aanslag op korrupsie en georganiseerde misdaad in die sektor word verskerp. Dit sluit in die opstel van die Nasionale Water- en Sanitasie-teenkorrupsieforum in samewerking met die Spesiale Ondersoekeenheid.
# Die Bloubergstrandse Inwonersvereniging gaan appelleer teen Stad Kaapstad se besluit om goedkeuring te gee vir die bou van ‘n boetiekhotel op die strandgebied. Volgens die vereniging sal dit ‘n gevaarlike presedent skep en ontwikkelaars aanmoedig om strand-eiendom te verkry en dan te hersoneer vir woonstelle of hotelle, wat in die toekoms moeilik sal wees om teen te veg. Die vereniging sê die afbreek van die bestaande gastehuis en die hersonering met toestemming vir ‘n hotel, sal ‘n negatiewe en ontwrigtende uitwerking op omliggende inwoners hê.
# Sokker: Manchester City het ‘n FA-beker-halfeindstryd teen Nottingham Forest op die Wembley-stadion bespreek. City, wat die trofee laas in 2023 gewen het, het die sewende agtereenvolgende jaar die laaste vier gehaal toe hy Bournemouth 2-1 geklop het. Forest het sy eerste halfeindstryd sedert 1991 gehaal toe hy met Brighton afgereken het. In die ander halfeindstryd kom Crystal Palace teen Aston Villa te staan. Palace het Fulham 3-0 afgeransel en Villa het Preston North End ook 3-0 kafgedraf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-82-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-122-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-18-sent per vat.
# En laastens, president Ramaphosa het die Moslem-gemeenskap ‘n vreugdevolle Eid-ul-Fitr toegewens wat die einde van die vas-maand van Ramadan aankondig. Die Verenigde Ulama-raad van Suid-Afrika het bevestig die maan, wat die einde van die geseënde maand van Ramadan aankondig, is gisteraand in die land gesien. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president doen ‘n beroep op almal om die gedeelde waardes na te volg wat almal verenig, soos vrygewigheid, meelewendheid en empatie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….