Nuus 11:00
BULLETIN 31 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering fokus op veilige en betroubare watervoorsiening
# Die GOOD-party vra die regering om nie gesondheidswerkers wat deur US-AID benadeel word aan hulle lot oor te laat nie
# En Trump dreig met nog sanksies teen Rusland
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid wil veilige en betroubare watervoorsiening bied om gemeenskappe te onderhou en ekonomiese groei te ondersteun. Die regering het verlede week ‘n nasionale water- en sanitasie-indaba gehou. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die aanbevelings uit die indaba is rede vir optimisme. Hy sê die aanslag op korrupsie en georganiseerde misdaad in die sektor word verskerp. Dit sluit in die opstel van die Nasionale Water- en Sanitasie-teenkorrupsieforum in samewerking met die Spesiale Ondersoekeenheid.
# Die MK Jeugliga sê Suid-Afrika se wetstelsel moet seevier en beslissend wees in die hantering van beide geslagsgeweld en verkragtingsake. Geslagsgeweld duur voortduur om gesinne en gemeenskappe te verwoes en die party vereis dringende ingryping. Woordvoerder van die MK Jeugliga, Nkateko Mkhabela, sê hulle is geskok en hartgebroke deur die brutale verkragting van ‘n sewe-jarige kind by Bergview Kollege in Alfred Nzo-Wes, Matatiele in die Oos-Kaap:
# Die GOOD-party vra die regering om nie nie-winsgewende organisasies en gesondheidswerkers wat deur die afsnyding van US-AID-befondsing geraak word, aan hulle lot oor te laat nie. Personeel wat noodsaaklike dienste lewer, soos die verspreiding van anti-retrovirale medisyne, word gedwing om ander werk te soek na die sluiting van klinieke. Peter Chokoe van GOOD sê die organisasies en personeel het ‘n gemeenskapsteenwoordigheid, vertroue, struktuur en data gevestig wat noodsaaklik is om die gesondheidskrisis in agtergeblewe gebiede teen te werk:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig intussen om sekondêre tariewe op Russiese olie te hef as sy ampsgenoot, Vladimir Putin, nie saamwerk in die voortgesette onderhandelings vir die beëndiging van die oorlog in Oekraïne nie. Die sekondêre tariewe kan tot 50-persent uitmaak van invoere na Amerika uit lande wat steeds olie van Rusland verkry. Trump voer aan hy het steeds ‘n goeie verhouding met Putin en sal nie kwaad wees as Putin die regte ding doen nie:
# Sokker: Manchester City het ʼn FA-beker-halfeindstryd teen Nottingham Forest op die Wembley-stadion bespreek. City, wat die trofee laas in 2023 gewen het, het die sewende agtereenvolgende jaar die laaste vier gehaal toe hy Bournemouth 2-1 geklop het. Forest het sy eerste halfeindstryd sedert 1991 gehaal toe hy met Brighton afgereken het. In die ander halfeindstryd kom Crystal Palace teen Aston Villa te staan. Palace het Fulham 3-0 afgeransel en Villa het Preston North End ook 3-0 kafgedraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-236-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-124-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….