Nuus 09:00
BULLETIN 31 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi open ‘n strafsaak oor die Mashatile-bewerings
# Cosatu sê die 23 Suid-Afrikaners wat uit Mianmar gered is, dui op ‘n behoefte aan werkskepping
# En tennis: Jakub Mensik en Aryna Sabalenka is die kampioene van die Miami Ope
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ʼn strafregtelike saak aanhangig gemaak teen ʼn persoon wat beweer sy het opdrag gegee dat adjunkpresident Paul Mashatile vervolg word. Dit volg nadat ʼn naweekkoerant berig het dat sy, president Cyril Ramaphosa en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, met die Nasionale Vervolgingsgesag saamsweer om Mashatile te vervolg. Kubayi sê sy veroordeel die kwaadwillige en georkestreerde smeerveldtog wat tweespalt tussen haar en Mashatile wil veroorsaak:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die redding van 23 Suid-Afrikaners uit Mianmar. Hulle is met vals werksaanbiedings gelok, in haglike toestande aangehou en gedwing om mense te bedrieg, en is met geweld gedreig as hulle sou weerstand bied. Die reddingsending is as deel van ‘n bi-laterale samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Thailand uitgevoer wat op die bestryding van mensehandel en oorgrensmisdaad fokus. Cosatu se woordvoerder Zanele Sabela, sê dit dien as ‘n dringende teken dat die regering meer werk moet skep:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê die stygende vlakke van misdaad by gesondheidsorgklinieke in die metro het ‘n nadelige impak op dienslewering aan inwoners. Die jaarverslag vir die 2023/2024-boekjaar toon dat verskeie klinieke deur misdadigers geteiken is met versekeringseise van meer as 31-miljoen-rand. Rina Marx van die VF Plus sê hulle skryf die stygende misdaadvlakke by gesondheidsorgklinieke toe aan swak, of soms afwesige, sekerheidsmaatreëls:
# Die Departement van Internasionale Betrekkings en Samewerking doen ‘n beroep op alle belanghebbendes in Suid-Soedan om ‘n vreedsame oplossing vir die huidige krisis te vind. Die aanhouding van die eerste vise-president, Riek Machar, verlede week het die 2018 vredesooreenkoms in duie laat stort wat die land se vyf jaar lange burgeroorlog beëindig het. Die departement doen ook ‘n beroep op alle ondertekenaars van die konflikoplossingsooreenkoms in Suid-Soedan om die ooreenkoms in te stel.
# Tennis: Die 19-jarige Jakub Mensik het die sesmalige kampioen Novak Djokovic oorrompel om die Miami Ope te wen – sy eerste ATP-toertitel. Die Tsjeg, die tweede jongste wenner ooit van die toernooi, na Carlos Alcaraz, het die Serwiër met 7-6, 7-6 geklop. Die 37-jarige Djokovic was op pad na sy 100ste toervlaktitel. In die vroue-eindstryd Saterdag het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, van Belarus haar tweede titel van die jaar ingepalm deur die Amerikaner Jessica Pegula met 7-5, 6-2 te verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-509-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-111-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….