Nuus 18:00
BULLETIN 28 Maart 6nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste gaan volgende maand voordeel trek uit aansienlike petrol- en dieselprysverlagings
# Solidariteit eis dat ANC waninligting oor die Amerikaanse diplomatieke krisis beëindig
# En rugby: Die Blitsbokke verloor sleg teen Australië in Hongkong
# Motoriste kan volgende week ‘n aansienlike daling in brandstofpryse verwag, met petrolpryse wat met 64- tot 78-sent per liter sal daal en diesel met sowat 90-sent per liter. Dit volg nadat die maandeinde-data ‘n noemenswaardige oorverhaling in brandstofpryse getoon het, aangevuur deur bestendige oliepryse en ‘n gunstige rand-dollar-wisselkoers. Die koolstof-brandstofheffing sal wel met drie-sent styg, maar sal nie ‘n groot invloed hê op die prysverlagings nie. Die Departement van Petroleum- en Minerale Bronne sal volgende week die amptelike prysveranderings aankondig.
# Die vakbond Solidariteit sê die ANC moet ophou om hulle en AfriForum die skuld te gee vir die diplomatieke krisis met die VSA wat deur die ANC se beleide veroorsaak word. Die vakbond ontken bewerings oor die verspreiding van vals inligting in die buiteland en onderstreep dat hy nog nooit vir sanksies gevra of beweer het daar is volksmoord teen wit mense in Suid-Afrika nie. Flip Buys van Solidariteit sê die ANC se optrede moet die skuld kry as Suid-Afrika nie meer deel van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika mag wees nie:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die dreunsang “Kill the Boer, Kill the Farmer”, is nie meer van toepassing op die party se doelwitte nie, alhoewel die Konstitusionele Hof dit nie onwettig geag het nie. Hy het tydens ‘n onderhoud by die nasionale uitvoerende komitee se vergadering in Boksburg, Gauteng, verduidelik die dreunsang is gewortel in apartheid-era-weerstand en was wel deel van die stryd, maar het geen plek in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie:
# Rugby: Australië het Suid-Afrika ‘n sewes-les geleer deur hulle 26-7 te verslaan in hul groepswedstryd in die Wêreldreeks-toernooi in Hongkong. Die Australiërs het in die eerste helfte twee drieë aangeteken en in die tweede helfte ‘n verdere twee voordat Selvyn Davids die Blitsbokke se enkele drie kon druk. Suid-Afrika het vroëer in hulle eerste wedstryd sewe drieë teen Uruguay gedruk om met 40-7 te wen. Hulle speel môreoggend teen Nieu-Seeland in hulle laaste kragmeting in Groep B.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-464-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-82-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-74-sent per vat.
# En laastens, Capitec het aangekondig sy nuwe uitvoerende hoof sal Graham Lee wees. Hy was die groephoof vir die kleinhandelbank-afdeling en volg die groep se uitvoerende hoof en stigterslid, Gerrie Fourie, op wat ná 25 jaar van leierskap sal uittree tydens die jaarvergadering in Julie. Capitec het onder Fourie se ampstermyn tot Suid-Afrika se voorste digitale bank gegroei en spog met meer as 24-miljoen kliënte. Lee het in 2003 by Capitec aangesluit en verskeie strategiese posisies beklee. Die raad het bevestig ‘n gladde oorgang is aan die gang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….