Nuus 06:00
BULLETIN 28 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum veroordeel die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Kill the Boer-liedjie
# Die kabinet verleen uitstel vir SASSA-kaartvervangings
# En die 23 Suid-Afrikaners wat uit Mianmar gered is, is veilig tuis
# AfriForum het die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Kill the Boer-liedjie ten sterkste veroordeel. Die hof het die burgerregte-organisasie se aansoek om appèl aan te teken teen twee hofbeslissings wat bevind het die liedjie is nie haatspraak nie, van die hand gewys. Die hof het bevind die appèl het geen redelike kans om te slaag nie. Kallie Kriel van AfriForum sê hulle sien ‘n toenemend radikale toepassing van die Grondwet en ‘n toename in ideologies-gedrewe regters:
AfriForum het ook uitgevaar teen president Cyril Ramaphosa omdat hy weier om die Kill the Boer-liedjie te veroordeel, en noem dit stille goedkeuring van geweld teen Afrikaners. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sal nie die liedjie veroordeel nie, ondanks die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, se kritiek. Ernst van Zyl van AfriForum beskuldig Ramaphosa dat hy politieke alliansies voorrang gee en nie aandag skenk aan minderheidskwessies nie:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het die spertyd vir die vervanging van sy gouekaart met die Posbank se swartkaart met ‘n maand uitgestel tot 30 April. Dit word gedoen om ‘n gladde oorgang te verseker en ontwrigting met die uitbetaling van toelaes te vermy. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie na die jongste kabinetvergadering bevestig die Posbank het voldoen aan die meeste van die Reserwebank se vereis, en die laaste stap is die vervanging van die kaarte:
# Die Stad Tshwane se koalisievennote, insluitend die ANC, die EFF en ActionSA het die eerste konsepbegroting wat sedert 2021 ten volle befonds is, verwelkom. Die begroting verhoog die drumpel vir hulpbehoewendes van 150-duisend-rand tot 250-duisend-rand, wat meer as 183-duisend eiendomme bevoordeel met gratis basiese dienste ter waarde van 2,9-miljard-rand. Dit sluit ook ‘n vier-persent verlaging in eiendomsbelasting in en 210-miljoen-rand se besnoeiings in kontrakteurskoste. Kliniekure sal tydens ‘n toetsprojek verleng word, wat begin by die Olievenhoutbosch-kliniek, om toegang tot gesondheidsorg te verbeter.
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het bevestig dat 23 Suid-Afrikaners uit Mianmar gered en gerepatrieer is. Hulle is onder valse voorwendsels na Thailand gelok, waar hulle meer as vier maande gevange gehou is, gedwing is om kubermisdaad te pleeg, en mishandel is. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hulle het die repatriasie gefasiliteer, en finansiële steun aangebied. Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling en die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek lewer mediese ondersteuning, psigo-maatskaplike ondersteuning, en ondersoek ‘n saak van mensehandel.
# Rugby: Die Springbokslot RG Snyman gaan nog ‘n jaar vir Leinster speel. Hy het verlede jaar van ‘n ander Ierse span, Munster, by Leinster aangesluit. Hy het sy professionele debuut by die Bulle gemaak voordat hy na Japan verhuis het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, het glo probeer om Snyman terug te kry, maar Leinster het gewen. Die Ierse span speel môre in Durban teen die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle verswakte span verlede naweek in Pretoria met een punt teen die Bulle verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-250-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-54-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….